Die Verbeeldingryke Venters

58. Fiksie en die Roosboomroman

“Ek gaan ‘n boek skryf, mamma!” kondig Jos een oggend hierdie week aan. So uit die bloute. “Okei…waaroor gaan jy skryf?” moedig Lisa alte sagmoedig hierdie verbeeldingsvoël aan. Jos wil ‘n boek skryf oor ‘n blondekop seuntjie van twaalf jaar oud wat in ‘n fantasiewêreld genaamd “Congola” bly. Die land grens aan “Wakanda” in Afrika. Jos  se boek beskryf die jonge “Evan” se ervaringe toe hy misterieuse ruïnes in 'n woud ondek met vier vlieënde kristalle wat hom na verskillende tye en wêrelde neem….histories en hiper-futuristies. Hy het alreeds twee hoofstukke geskryf met bypassende prentjies en sketse…o ja…en hy het besluit om dit in Frans te skryf. Frans!!! Ek weet nie wat om te sê nie…seker omdat ek nou ekstra hard moet konsentreer as hy die hoofstuk vir my voorlees. Ek kan nie net met een oor luister en die ander oor rugby kyk nie, al beskik ek oor daai vermoëens. Vra maar vir Lisa… maar wanneer dit by Jos se Franse storie kom, moet ek als afsit, my oë toemaak en stip en aandagtig luister. Ai tog…ek sukkel maar nog.

Toe ek jonk was het my pa verskeie maniere gebruik om ons te dissiplineer. Ek is seker daar was goeie redes hoekom ek so gereeld gedissiplineer moes word… ek kan hulle net nie almal onthou nie, en volgens my, was ek 99% van die kere salig onbewus hoekom hierdie regtig 'n probleem was. Hetsy dit ses van die bestes was, en of, die verbeuring van my voordele, of selfs uitskryfwerk…als het bygedra tot die vorming in die individu wie ek vandag is. Lisa is baie dankbaar en trots op hoe ek uitgedraai het. Daar was wel een metode wat my pa gereeld gebruik het om seker te maak die "penny drop". 'n Metode wat my vrye-tyd belemmer het, 'n metode wat seker gemaak het ek besef erns van die oortreding sowel as die impak daarvan…en dit was om ‘n opstel te skryf oor die betrokke insident. Byvoorbeeld: “Die belangrikheid van persoonlike higiëne”…’n onderwerp uiters gepas vir ‘n tienerseun wie se kamer nie netjies of opgeruim is nie. Ek onthou daai een nog goed. “Gehoorsaamheid” was nog een. Soms het my pa dit interessant gemaak deur aan te dring dat ek dit in Engels skryf, en dan merk hy dit...met ‘n rooipen ! Ek moes moeite doen en bietjie peins oor die onderwerp. Pa wou sien of jy die onderwerp verstaan en dan wou hy jou argument sien en hoe jy dit verdedig in hierdie opstel. Ook wil hy sien watter voorsorgmaatreëls jy gaan instel om die herhaling van hierdie lewensbedreigende faux pas te verhoed. Vreeslik pragmaties…en dan merk hy dit. Ek het die kere wanneer ek hierdie straf toegedien was, verkies bo die 100-keer-uitskryf-metode. Ek kon/kan ‘n lekker storie skryf of vertel. Ek kon my inleef in hierdie tienerseun se wêreld...met al sy struwelinge... wat in hierdie oomblik van swakheid, byna sy koningkryk kwyt is. Ek kon my inleef in al die soldate en musketiers wat tot sy redding gekom het...al die perde en prinse...en daarom is sy kamer weer netjies en aan die kant. Kan julle dit sien? Die feit dat Jos hierdie lus vir skryf ontdek het, sonder om gedissiplineer te word, is verblydend. 
Ons het “Thanksgiving” gevier saam ‘n Suid-Afrikaans-Amerikaanse gesin, ‘n Amerikaanse gesin en ‘n Franse gesin. Dis ons eerste keer dat ons deel is van hierdie Amerikaanse gebruik.  In 1621 het die Plymouth-koloniste van Engeland en die inheemse Amerikaanse Wampanoag-mense 'n herfs-oesfees gedeel wat erken word as een van die eerste Thanksgiving-vieringe in die kolonies. In die middel van die Amerikaanse Burgeroorlog het president Abraham Lincoln, na aanleiding van 'n reeks hoofartikels geskryf deur Sarah Josepha Hale, 'n nasionale Thanksgiving Dag afgekondig, wat op die 26ste, die laaste Donderdag van November 1863, gevier moet word. Gewoonlik kalkoen maar die keer hoender, pampoentert, Brusselse spruite, skaapboud is maar net van die lekkernye wat ons saam geniet het. Die gebruik is ook dan om al  om die tafel te gaan en op te noem waarvoor elkeen dankbaar is. Ons lys was so lank…ek raak sommer bewoë as ek aan als dink waarvoor ons dankbaar is hierdie jaar. Ons staan steeds in verwondering.
Die ysmeisie het ook hierdie week kom aanklop en volgens die weermense gaan sy vir ‘n rukkie hier bly. Die seisoen is regtig besig om te draai. Ons roosbome begin liggies vir ons waai. Hulle weet… een of ander tyd moet hulle ‘n knip kry. Hulle sê mos…as jy ‘n roosboom genadeloos behandel in die winter, gaan sy vir jou pragtige blomme gee in die somer. So…jy gaan moet diep knip. Jos het ook ‘n winter-roosbom-snit gekry. Sy hare is lekker kort. Hy het nie eintlik ‘n keuse gehad of gevra daarvoor nie…ek het per ongeluk ‘n paar lote diep afgesny en dit het beteken dat ek die ander lote ook moes korter knip. My roosboom vergelyking het die ding gedoen. Hy sal okei wees…dalk bietjie teenproduktief, aangesien sy kapsel by kon dra tot sy hitte-preservering. Ons sal sien.

Groetnis/ Salutations

Die Verbeeldingryke Venters

Comments

Popular Posts