Die Verlangende Venters

57. Joshua na die reën 

Die oorle Al Debbo het ‘n liedjie gesing oor die Brakke van Turffontein. Grotes en kleines…elkeen sy eie blaf.  Dis hoe ons huis geklink het die laaste paar weke. Asof ons die SPCA se honde huisves.  Elkeen het sy eie blaf, kug of keelskoonmaak gehad. Ek het ‘n diep harde een met 'n snuif gehad, Oupa…so hees ene en dan ‘n harde snork en Ouma het weer ‘n beskeie blaf gehad…amper asof sy te skaam was. Lisa het weer twee kortes en ‘n lange (nog steeds) en Jos…hy het in ‘n blafbui gegaan dat hy sommer gebraak het van opgemak. Dit was nie ‘n lekker drie weke in ons huis nie. Die weer was somber en ons kon nie baie uitkom nie. Almal was siek…maar nou na die reën, skyn die son weer…asof Oupa en Ouma die reën hier aangebring het en dit weer saamgevat het.

Ons het Oupa en Ouma se rituele leer ken. Hawermoutpap in die oggende, volroommelk van Lidl in die koffie en tee, ‘n knertsie suiker oor als, ‘n stappie in die middag (as dit nie reën nie) en roomys as bederfie. Hulle het nie kom vakansie hou nie. Hulle het vir vyf weke kom leef in ons wêreld. Dus, moes hulle die buurt en paaie leer ken. Die pad skool toe, die pad trem toe, baie van ons vriende en hulle het vir Bakkies (my naam vir die Franse-taal) ontmoet. Aan die begin was dit snaaks en simpel, toe raak dit eienaardig en eksentries en daarna ‘n openbaring. Bakkies praat Frans! Oupa kan nie verstaan dat die mense hier nie wil Engels praat nie. Die mense hier kan weer nie verstaan hoekom Oupa nie Frans wil praat nie. Bakkies is ‘n Buffel…en hy kyk eers op as jy Buffel praat. Enigeiets daarna, gaan jou verras. Dit het nie lank gevat vir Ouma om ‘n paar woorde te probeer leer nie. Sy het besef, sy gaan moet aanpas. Sy het reeds met Duolingo begin en ek is seker as sy elke dag ‘n bietjie doen, gaan sy volgende keer baie gemakliker wees hier in ons vreemde. Ietsie van haar eie...ietsie wat sy haar mee kan verryk...so op die oudag.  
Ons het baie UNO gespeel, maar nie net die gewone UNO reëls nie…oo nee…ons het “Venter UNO” gespeel. Die een waar jy pakkies moet uitruil of aanskuif of ‘n geweldige boete kry as jy met ‘n witkaart gevang word. Hierdie was ons go-to speletjies Desembermaande in die ATKV vakansieoord se karavaanpark by Drakensville. Die Freekes, Armstrongs, Janse van Vuurens en Olivers ken dit alte goed. Hierdie reëls het die geneigdheid om faksies te vorm... alliansies... bendes. Skeidings wat deurgaan tot in die swembad die volgende dag. Nuwe strategieë is aan die orde van die aand. Daar word telling gehou...soos golf. Net sodra jy dink jy dryf die bal 900meter ver, beland jy in die water vir 'n trippel bogey. Hierdie reëls het die spel baie interessanter gemaak en meer mededingend. Dit was effe skrikwekkend om die emosie op my vrou se gesig te sien elke keer as ek vier of agt kaarte moet optel...of wanneer sy 'n pakkie met jou ruil met twee witkaarte in. Ek is nie die kompeterende tipe nie (wink-wink)…maar Lisa! Oupa vra toestemming met elke beurt. Dit is sy poker face...en dan speel hy uit, tot die ontsteltenis van Jos. 

Oupa en Ouma is terug na warm Suid Afrika en die vyf weke kuiertjie is verby. 'n Tas vol geskenkies en goedjies vir die ander Ventertjies daar. Ons mis hulle al klaar.

Daar is 'n weinige klompie Franse wat nietemin bedaar het na die Wêreldbeker. Baie, insluitend die afrigter Fabien Galthié, het egter nog nie vrede gemaak met die kwarteindskeidsregter se besluite nie. So ook nie die Engelse nie en so ook nie die All Blacks nie. Hoe is dit dat die Bokke die enigste span was wat so vreeslik bevoordeel was? Baie van die Bokke is met 'n GEBOE gegroet na die terugkeer na hul onderskeidelike Europese klubs. Polly en Siya was aan die ontvangkant maar ten spyte daarvan, kon die kameras steeds nie hul lense van hulle afgehou het nie. Terselfde tyd het die Krieketwêreldbeker plaasgevind en almal het ‘n halwe oog op hierdie toernooi gegooi maar nie gedurf iets sê nie. Natuurlik wil ons dit ook wen maar ons wil nie enige geraas maak nie…nou-nou maak ons die Verstikspook, en vir Temba, wakker. Die sterre was besig om mooi op te lyn en daar is dit toe…’n herhaling van ‘n paar jaar terug. Die Semi-finaal is ‘n hekkie te hoog vir die Proteas. Ten minste het die Aussies bietjie eer herstel met hul vertoning. Hulle het met dieselfde volharding die gunstelinge aangedurf as wat die Bokke die finaal aangepak het. Iets wat die Wallabies kortkom. 

Dis nog net 'n maand voor ons vir die Freekes in Potsdam gaan kuier. Ons is byna reg vir die erge koue wat ons oor kersfees daar kan verwag.

Groetnis/ Salutations 

Die Verlangende Venters

Comments

Popular Posts