Die Fynbeskaafde Venters
62. “Cheese”
Fotodag is gewoonlik ‘n groot gedoente op skool. Dis die dag waar al die meisies se hare gekrul is, linte in het in die kleure van die skool, en die laaities blink van die gel. Hulle moet versorgd lyk…asof hulle elke dag so lyk. Dis meer ‘n refleksie op die ouers se tydsbestuur daai oggend as wat dit die persoonlike higiëne van die kind tentoonstel. Daardie fotos kom teen die yskas, in ‘n fotoraam en word in ouma en oupa se fotoalbum, met al die ander kleinkinders in, gebêre. Die kind moet skaflik lyk. Dis jare al ‘n stryd vir al die mammas. Opstaan, hare krul of gel, tandeborsel, en dan, soos in die geval van Lisa, doen sy eers plaakpatrollie. “Het jy jou tande goed geborsel? Laat ek sien…maak oop! NEE, daar is nog plaak. Gaan borsel weer!” sal Lisa elke tweede oggend vir Jos opkeil. Ek dink Jos weet al, dit maak nie saak hoe goed hy die eerste keer borsel nie, hy gaan altyd moet teruggaan vir ‘n tweede borsel. Lisa pas die kwaliteitsbeheer toe as dit by die tande kom. Sy en Jos het mos myle daarvan en sy weet iets wat ek nie weet nie. Wanneer dit by die klere en hare kom, om eerlik te wees, gee die pappas nie ‘n benul om nie. “Laat die kind gaan…genade tog. Relax!" Hierdie jaar se skoolfotomemo het ons heeltemal ontglip. Jos het met sy minder netjiese hemp en ongejelde hare op die skoolfoto verskyn. Hy het wel een Super Power waaragter hy kan skuil. Hierde Super Power…is sy tande. Hy en Lisa het beide daai bate. Jos en ‘n ander meisie was die enigstes wat hul tande gewys het…die ander maats het geen poging aangewend om opgewonde te lyk nie. Hy het sommer voor in die koor gesit en niemand kan hom mis nie. Daar is ook altyd daai kind wat ‘n gesig trek. Die een wat die foto bederf. Dit was vir my ma altyd ‘n stryd. My boet kon net nie die versoeking weerstaan om ‘n snaakse bakkies op te sit wanneer dit by familiefotos kom nie. Sy het eers die ramp besef wanneer die film ontwikkel is, en dan is die duiwel los. “MOET NIE GESIG TREK NIE!” sal sy jou met ‘n dreigende stem toeroep en jou aangluur met oë wat jou kan verlam..., en dan slaan sy oor na ‘n engelstem… “Cheeeessse.” Sy glimlag, sodat al die kinders kan sien hoe dit gedoen moet word terwyl sy loer deur die venstergaatjie van die ou filmkamera. Jy hoor net ‘’klik’’ en dan die gekrap van die wieletjie wat aangedraai word…reg vir die volgende glimlag.
In Frankryk is ‘n glimlag nie iets wat jy aldag op straat sien nie. La bonne humeur is ‘n karaktertrek, wat almal soek… sommer gou raaksien. Alle poste waarvoor Lisa aansoek doen, soek ‘n bonne humeur. Jy kan altyd kundigheid aanleer maar ‘n goeie gemoed en gesindheid is meestal onverkrygbaar. ‘n Goeie gemoed en ‘n glimlag is jou paspoort. Jou paspoort na ‘n sagmoedige hart, ‘n vergewingsgesindheid, ‘n helpende hand. Dit mag nie ‘n valse glimlag of valstande wees nie…dit kan enige ou van ‘n myl af sien. Net soos jou oë die vensters van jou hart is, reflekteer jou glimlag die toestand van jou siel…en hulle is vol plesier.
Ons het in Duitsland aangekom vir ons kersvakansie by die Freekes. Sommer met die aankoms was ‘n yshokkiewedstryd eerste op die To-Do lysie. Dit was die Berlynse Ysbere teen die Nürembergse Ystiere. ‘n Sport wat ek nog nooit gekyk of gevolg het nie…maar waarin ek baie vinnig belang kan stel. Op ‘n Saterdagmiddag om Loftus sal jy ‘n vreeslike klomp blou Bloubul ondersteuners raaksien. Hier en daar kry jy ‘n tannie met daai jakaranda en pienk trui. Wat die Bulle besiel het om daai trui uit te bring, weet ek nie. Dit pas mos nie by ‘n Bul nie. Nietemin, hier in Berlyn het die Ysbeer-ondersteuners ook hul truie aan. Noebels en Müller is die name van die sterskaatsers in die span. Die name pronk ook op die rug van die ondersteuners. Dan is daar ‘n drommekoor wat heeltyd krete en ritmiese liedjies uitbasuin. Die aankondiger se stem bulder…sodra een uit die koelkas kom na ‘n haak of ‘n trek. Sy stem klink soos dié van Adolf Hitler en Rammstein gemeng…tipies soos ‘n Ysbeer sou klink.
Laasjaar het ons skaapboud op Kersdag in die Alpe gehad. Hierdie jaar het ons skaapboud in Potsdam gehad. Die tradisie is besig om homself te vestig. Die kersie op die sjokoladekoek was ‘n kaartjie na Die Berlynse Filharmoniese-orkes op Kersaand. Wat ‘n verrassing! Ons moes vreeslik deftig aantrek vir hierdie geleentheid. Ons het baie gekultiveerd gevoel. Die saal het die beelde van oud-komponiste gehad. Handel, Schubert, Bach. Jos het nou fotos saam met Siya Kolisi, Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Mozart en Beethoven. Al sy heros. Hy was meer opgewonde vir ‘n foto saam met hierdie (baan)brekers as Schalk Burger en Jean de Villiers. Hy was een van vyf in die gehoor wat onder 25 jaar oud was. Die res van die mense was almal grys. Simfonie-orkes-etiket het ons nog min van. Ons wou na elke geleentheid hande klap. Gelukkig het ons gewag tot ons sien die oues klap. Aan die einde loop die diregent van die verhoog af en almal klap hande…dan kom sy terug, groet twee violiste en kry ‘n bos blomme…en dan stap sy weer af en almal hou aan klap…en dan kom sy terug en diregeer nog ‘n wysie. So herhaal hierdie gedoente hom. As jy my vra, het sy het hierdie op en af lopery bietjie gemelk, maar dis seker hoe dit werk.
Die res van die week lê nog voor en daar is nog vele om te doen. Tog op hierdie noot…
Groetnis/ Salutations
Die Fynbeskaafde Venters
Comments
Post a Comment