Die Verfomfaaide Venters
Ek moes vanoggend aangetree het vir die Bordeaux half-marathon, en wanneer ek sê: “moes” beteken dit, ek het nie. Ek sal later terugkom oor die rede hoekom nie…maar eers ‘n bietjie agtergrond. Ek het grootgeword in ‘n huisgesin waar ons oorgenoeg gehad het…want die sente was drie keer omgedraai voor dit gespandeer is. Pa en Ma het ons drie kinders, (sus is die oudste en dan het ek ‘n jonger boet…ek was die middelkind) aangemoedig om aan sport deel te neem wat bekostigbaar was. Goete soos krieket het te veel pads en bats en balbakkies gehad. Die aanvanklike belegging was net te groot…en dan was dit die tyd. Om die hele middag op die grens te staan en hoop ‘n bal kom jou kant toe, is 99% absolute vervelendheid en 1% absolute chaos. Die chaos was as die bal hoog in die lug geslaan is, en ek hom moes vang. Tennis het weer te veel witheid in gehad. Wit hempie, wit broekie, wit sokkies en wit tekkies…en dan vergeet ek my raket by die huis…so dit het ook nie gewerk nie. Rugby was anders. Hier moes jy speel…anders was jy gesien as ‘n hokkiebokkie…en niemand wou ‘n hokkiebokkie wees nie…almal wou Springbokke wees. ‘n Sport wat wel goedkoop genoeg was vir ons, was atletiek...soos middelafstande en ook landloop. Met ander woorde…Hardloop…Hol. Jy het in meeste gevalle nie eers tekkies nodig gehad nie. “Gaan! Gaan hol...gaan hardloop een keer om die berg”, was woorde wat my pa en ma gereeld geroep as hulle gevoel het ons raak te besig. “Om-die-berg” was ‘n drie kilometer sirkelroete Edelweisslaan om en terug tot by die huis. Een moeviese opdraande en een moeviese afdraande.
Die hardloopkonsentraat het dikker deur my ma se are gevloei en my pa het weer die dryfkonsentraat gehad. Saam maak dit ‘n goeie kombinasie. My sus het ‘n goeie kwota van beide gekry, ek het bietjie minder van die hol gekry en my boet…wel…kom ons sê ...sy mix het baie ys in gehad! My sus was die pliggie. Op hoërskool het haar wekker elke oggend 5h15 gelui…en dan het sy opgestaan en my probeer wakker kry. Ons moes elke oggend voor skool vier kilometer gaan draf, behalwe Vrydae. Ek is gewoonlik sleepvoetig saam en het meestal gehoop sy verslaap. Maar nee! Dan was daar weer oefening in die middae ook. Sy het Noord-Transvaal kleure verwerf vir atletiek en landloop. Ek het skaars Noord-van-net-net die skoolspan gehaal en my boet…wel hy was een van die dirigente, 'n talentvolle rasieleier…een van die twakmakers wat voor die paweljoene die res van skool aanhits. Hy kon in 'n nargewaad vir vyftien meter net so vinnig soos die 800meter kampioen hol…als net om die skool so bietjie op te sweep. Sy beker het oorgeloop van daai konsentraat. Ek was wel die skool se Landloopvereniging se voorsitter. Wat dit beteken was…ek het voor gesit op ons skool se landloopspanfoto. Reg in die middel. “Ek was dalk nie vinnig nie, maar voorbeeldig” probeer ek myself troos. Dit was so goed soos die eerstespan rugbykaptein…ek was net die landloopkaptein. Lisa het byna van haar stoel afgeval die dag toe ek dit aan haar verduidelik. ‘’Kry 'n mens so iets? Nog nooit daarvan gehoor nie’’ sê sy met so skewe glimlag op haar gesig, asof sy enige oomblik al haar koffie gaan uit proes.
Dis nie dat ek van draf hou nie…maar ek hou van eet meer en daarom draf ek. So het ons drie Boertjies hier in Bordeaux ‘n lekker roetine. Elke Saterdag gaan ons drie vir ‘n draffie. Eintlik draf net ek... Lisa en Jos ry fiets. So tien tot twaalf kilometer. Jos wil elke Saterdag twee dinge weet. Hoe vêr en het julle geld saamgebring. Ons het ‘n roete uitgewerk sodat ons langs ‘n spesifieke bakkery verby draf en vir ons “Pain aux raisins” en “Chocolatines” koop. Dit is Jos se hoogtepunt van die oggend. Dit maak die gekla om die bult uit te ry, minder…seker omdat hy so bietjie suiker inkry. Terug by die eintlike rede hoekom ek nie vir die half-marathon kon aantree nie. Ons het twee naweke terug, soos oudergewoonte weer bietjie gaan draf, juis om nog voor te berei vir hierdie half-marathon, toe ek my bas afgeval het. Soos ons die bakkery nader, het Lisa en Jos solank vooruit gery…want ek kom mos. Op daai oomblik trap ek wild-skeef, swik ek my enkel en ek vlieg soos Brad Pitt in Legends of the Fall, deur die lug. ‘’Hy is af…MORSAF!” dink ek onmiddelik. Soos Michael Flatley, lê ek op die naat van my rug. Als klop. Die pyn stroom na my enkel toe. My brein sê vir my: “Ek dink jy het moeilikheid tjom.” Ek probeer opkom. Ek kyk rond…het iemand my dalk gesien? Nie dat ek skaam kry nie…ek kort hulp. “Hy is af!”...onthou! Ek kom orent en op daai stadium staan Lisa en Jos buite die bakkery opsoek na my. ‘’Liefie?...wat maak jy?” “Ek tel slakkies op my duifie!”…WAT dink jy? ”EK HET NEER GEBLITSEM.” Ek kry so ligte bewerasie aan my…dis vrek seer. Dié geswikte enkel het my voorbereiding heel en al kom kortwiek.
Ek het lanklaas so hard geval. Ek dink ek het laas vir Lisa so hard geval. (Sy bloos natuurlik soos ek hierdie skryf). Die kersie op ons koek is…dat dit boonop vandag ons negentiende (19e) huweliksherdenking is. Ons tweede een in Frankryk. Op 3 Desember 2004 het ek en my Lyfie trou aan mekaar beloof. Toe Lisa op daai rooi tapyt in die reghoek tent afstap, het ek toe al besef…ek het swak enkels. Ons het gedans op 'n dennehoutplankvloer in 'n markiestent op een van Andrea Bocelli se liedjies,…moet my nie vra watter een nie. Haar sagte lippies en skerp humorsin het bevestig... vir jou gaan ek hou want die dag gaan kom dat jy my gaan moet ophelp, my hand gaan moet vashou en vir my sê: “Toemaar kaptein, dit gaan okei wees.”
Groetnis/ Salutations
Die Verfomfaaide Venters
Comments
Post a Comment