Die Versadige Venters
60. Lisa het twee vriendinne.
Lisa het ‘n vriendin. Eintlik twee, maar hierdie vriendinne is nie aan almal bekend nie. Sy nooi hulle net so nou en dan uit vir ‘n kuiertjie. My ma het ook twee sulke vriendinne, dalk meer, en ek is seker my skoonma het drie. Hierdie dames kan pittig, wispelturig, emosioneel, selfs nors en soms net verdomp aspris wees. Soms klets hulle vir ure en sing hulle asof hulle deel is van die Suid-Kaapse kinderkoor. Ek ken hul van kindsbeen af al het ons nie baie oogkontak gemaak nie…dis nie eintlik ‘n tannie wat ek wou soengroet nie. Haar lipstiffie sou ek met my vingers moes afvee. My sussie het so een of twee keer saam met hulle tee gedrink maar dit was ook nie haar tipe koppie tee nie. Sy het hulle liewers probeer vermy. Lisa ken egter hierdie anties. Sy is mos nie bang vir snaakse persoonlikhede of _celebreties_ nie. Wie is hulle dan? Wel, hul name is natuurlik, Elna en Bernina. Hulle het nie hul eie vanne nie…net soos Cher, maar as hulle gehad het, is ek seker dit moes iets soos “Moerdijk” of “van Helsdingen” gewees het. Soos ek sê, hulle buie verander soos die weer. Bernina is gewoonlik kort van draad en Elna breek deurgaans ‘n naal(d). Dan is dit trane en hare wat waai. As hulle wel die dag met die regter voet (en op die pedaal) uit die bed opstaan, Sing(er) hulle soos Miemie Coertse die Ave Maria sal sing in die Staatsteater. Jy kan nie genoeg oor haar Pfaff nie.
Ek ken hulle van seunstyd af. Onderbaadjies tot onderbroeke. Knopieshempde tot safaripakke. Niks was te moeilik nie…as almal saamgewerk het. Lisa se meisiesjare getuig weer van Matriekafskeidrokke tot broekrompies, lentedagkleertjies, verjaarsdagpakkies en “mevrou-mevrou-rompe." Ag te fraai. Ons was nog gekys toe Lisa selfs vir ons elkeen ‘n Flintstone pakkie gemaak het vir ‘n fancy-dress-up. Sy was Sharon Stone en ek Sylvester. Dit was meer once-off gewaad met ‘n leeuvel-tiertert motief. Als omdat sy vir Elna en Bernina ken.
Lisa het hierdie week weer vir Elna en Bernina oorgenooi vir ‘n partytjie. Hulle het eintlik net uit die kas geklim…en mooi stelling ingeneem al om die eetkamertafel. Lisa het tee gemaak…sommer hulle tee ook opgedrink, en gehoop nie een van hulle twee gooi ‘n vloermoer nie. Lisa help mos by die kerk en daar is een van die dae ‘n kersspektakel…’n revue. Hulle kort kostuums en raai wie steek hul hande op? Jip...Lisa, Elna en Bernina! Nou ja…vyf rompies op ‘n patroon wat sommer _geWhatsapp_ is. “ _C’est possible?_ ” “Is dit moontlik?”, vra die organiseerder van hierdie spektakel. “ _Oui oui..j’essiaerai_ ” antwoord Lisa, wat beteken “Ek sal probeer.” Wat Lisa eintlik gesê het was: ‘’Sjoe..is dit al? Moet ek die res self uit-figure ? Is hierdie genoeg materiaal?” Sy het goed gevorder en met die hulp van haar twee moeders in Suid-Afrika (aangesien hulle presies weet hoe hierdie tannies hul tee verkies), het sy haarself baie goed van haar taak gekwyt.
Kersfees is om die draai. Buiten die komende spektakel by die kerk, het hierdie versierings al in Oktober by ons begin op-pop. Die winkels sit kersbome op, die dorpies rol al hul liggies uit en hier en daar is daar ‘n buurman wat sy vyeboom ook versier. Soos ons nader kom aan die datum raak dit al hoe meer opsigtelik en dan natuurlik is dit daai BLERRIE Mariah Carey liedjie wat in almal se koppe begin vassteek. Die radiostasies hou doelbewus dit vir so laat as moontlik en dan moet hulle maar daai CD uithaal. Daar is beraam dat Mariah Carey $3 miljoen elke jaar verdien met “All I want for Christmas”. Hulle raak bietjie Carey-ed away as jy my vra. As Bruce Springsteen maar net ‘n treffer kon uitbring tydens kersfees…of as hy net ‘n nuwe spin op Beethoven se 9de simfonie kon sit, dan kan hy vir eens en vir altyd vir Mariah ontroon.
Ons was ‘n klompie Suid-Afrikaners wat saam ‘n Afrikaanse kersete gehou het. Daar was wel twee buitelanders...twee Franse. Ek is seker daar is nog ‘n klompie Saffas wat ons nog nie ontmoet het nie maar ten minste was ons tien volwassenes en ‘n spul kinders wat saam geëet het. Elkeen was verantwoordelik vir ‘n dis. _Auberge Espagnole_ word dit hier genoem. Die frase auberge espagnole is 'n Franse idioom, letterlik vertaal as "Spaanse herberg" of "Spaanse hotel". 'n Spaanse herberg laat nie regtig reg geskied aan die Spaanse gasheer-eienskappe nie. Dit beskryf eerder 'n plek waar klante kan eet wat hulle bring - by uitbreiding moet 'n mens onafhanklik wees. Dus… amper soos Bring-‘n-Braai maar die plan was nie om in die koelerige wind en geelperskerëen te staan en braai nie. Dié dat dit sommer ‘n aansit ete was. In hierdie geval het die vrouens meeste (al) die kookwerk gedoen. As ons sou braai…sou die manne mos omtrent vir als gesorg het…as ek dit reg het. Die dames het weke vooruit beplan. Wie bring wat ? Dit was pragtig tot in die kleinste detail. Aperatifs, Beespastei… _Beef Wellington style_ , lekker souserige Mayo-hoender, verruklike sampioenpastei, kaasborde, sjarmante sjokolademousse en ‘n klapper crème caramel. Ons is trommeldik. Dit was hemels.
Hierdie week moet ons Jos se oueraand bywoon. Laasjaar was dit mos vroeg na ons aankoms en als was in daai konteks ontleed. Hierdie jaar is hy volstoom-Frans en die terugvoer mag dalk anders klink. Ek sal volgende week meer uitbrei hieroor. Tot dan…
Groetnis/ Salutations
Die Versadigde Venters
Comments
Post a Comment