Die Volleerde Venters
61. Oueraand
Kan ek my grapjas uittrek en my sielsblye-stetson opsit vandag? "Generasies"... dit klink soos 'n sepie wat oor jare afspeel en die lewens, probleme en seisoene van verskeie karakters uitbeeld. Weet julle dat die BABY BOOMER generasie gebore is tussen 1945 en 1964 — en dat hulle dit genoem word omdat hulle tydens die “baby boom” gebore is… die tydperk waarin die geboortesyfer in 'n aantal Anglo-Saksiese lande, veral die Verenigde State, Kanada en Nieu-Seeland, opgeskiet het na die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Hulle was verantwoordelik vir die heropbou van Europa en ander infrastrukture na die oorlog. Hulle lewe was nie maklik nie, aangesien dit ná 'n tydperk van omwenteling 'n groot uitdaging was om werk te kry. Ek is ‘n GENERATION X baba… wat gebore is uit juis hierdie BOOM-generasie. Baie van ons generasie het saam klippe gekou, uitgehou en is toevertrou om hierdie nalatenskap verder te bou. Lisa is wel ‘n MILLENIAL baba. Hulle word meestal misverstaan...net soos die BOOMERS, maar sy het ‘n sterk naloop van die vorige generasie ook. Jos is op die grens van GENERATION Y. Hierdie groep jonger mense is 'n interessante een. Hulle is aan sosiale media blootgestel en was die eerste bevolking wat kuberafknouery en ander internetverwante kwessies hanteer het. Dit was ook gedurende hierdie tyd dat skoolverwante geweld en klimaatkrisis meer algemeen geword het. Hoekom is dit enigsins relevant?
Dit is seker vreeslik eng om mense oor ‘n kam te skeer, slegs gebasseer op die era waarin hul gebore is. Jy kan hom mos nie net op sy baadjie takseer nie...behalwe as hy van Affies afkom. Die impak van kultuur, geloof, blootstelling, invloed, geleenthede, geografie, taal om maar net ‘n paar te noem, maak dat hierdie groepe anders ontwikkel. Dit als neem deel in die vorming van ‘n substraat binne ‘n generasie. So...ons moet nogtans uitskieters verwag.
Jos het nie dieselfde bekommernisse as wat ek gehad het nie en so het ek ook nie dieselfde hoofbrekens gehad as wat my ouers gehad het nie. Ek is nog nie eers bewus van al die uitdagings waardeur Jos nog moet gaan nie, maar die wortel van daardie kwaad is dieselfde. Die wortel se venynigheid, boosheid en euwel ken ek. Ek herken sy taktiek en ek ken sy einddoel. Hy wil verwoes en steel. Kom doodmaak. Ons kan tog nie vir Jos in watte toedraai nie! Hoe verskans ons hom teen hierdie oorlogvoering? Hoe kan ons dit kry dat sy oë bly straal en sy hartjie glimlag? Sy vel taai maar sy handjies sag en barmhartig bly? Sy siel van blydskap juig en sy tong rein? HERE!! HELP!!
Ouerskap is nie moeilik nie…dis onmoontlik. Op jou eie…op ons eie gaan ons faal. Ons maak foute. Ons gaan nog baie maak, maar hoe kan ons Jos rig? Hoe kan ons Jos se interne barometer so sterk vorm dat dit nie bars …of swig nie. Ons probeer als verduidelik en na als kyk, deur 'n lens. Dié van die Evangelie.
Skooloueraande in my dae was ‘n vreeslike spannende geleentheid...altans vir my. Die twee-drie ure se wag om te sien wat die onnie kwyt geraak het, of nie, voor my ouers, was senutergend. Maak ek droog? Let ek op in die klas? Dis die dae toe die ouers nog bang was vir die onnies en die kinders bang was vir die ouers. Deesdae is die onnies mos bang vir die ouers en die ouers bang vir die kinders en die kinders is bang vir niks. Wel, nie alle ouers nie. My pa het gewoonlik vir die meneer gesê : “Moker hom meneer! ..en as jy dit klaar gedoen het…laat weet my dan doen ek ook so.” Pakkry daai dae was 'n rigtingwyser. Soos in standard ses, toe Pieter en Bredell my Rekeningkundehuiswerk afgeskryf het. "Die deler is so goed soos die steler" het meneer Knoetze gesê, en toe moes ons buk vir drie houe elk. Vandag mag jy net jou oë rol...en hoop die kind kry die boodskap.
Ons het Jos se eerste Collège-oueraand bygewoon. Lisa was ook by sy laerskool s'n laasjaar, maar dit was kort na ons hier aangekom het. Ek het my beste Frans ingepak en al klink dit soos ‘n Pierneefskildery in my kop, kom dit gewoonlik soos graffiti by my mond uit. Gelukkig was Lisa en Jos saam..ons is gereed vir gesels. By die eerste juffrou was ons al sprakeloos. Bewoë verstomd. Ek kon niks van my Frans gebruik nie…dit was nie nodig nie. Die onnies kon nie ophou praat oor Jos nie. Hulle prys sy entoësiasme, sy deelname, sy leierskap, sy vriendelikheid, sy respek. Sommer gedurende die geselsie met die Wiskunde juffrou, stap die Sport-meneer in en onderbreek ons: ‘’Ek wil net sê…Joshua is seker die mees gemanierde kind wat hy al in 'n lang tyd teëgekom het. Sy respek en bereidwilligheid is net verblydend. Dit is 'n voorreg om hom in die span te hê.” Die ander getuig van dieselfde. Sy punte is in die boonste kategorie van sy klas…en dit als in Frans…NA EEN JAAR! Aangedaan en oorweldig stap ons terug kar toe. Ons is dankbaar. Hierdie is die werke van iemand groter as ek. Iemand wat my kom herhinner het dat iemand anders in beheer is.
Hou by die plan Venters. Wees gehoorsaam... daar is een Meesterbrein...en dis nie ons nie.
Groetnis/ Salutations
Die Volleerde Venters
#ouerskap
#boertjiesinbordeaux
#dankbaar
#verstom
#verheug
#josbos
#ventersinfrankryk
Comments
Post a Comment