Die Vasberade Venters
64. Grasshoppers
Die Nuwejaar bring gewoonlik nuwe werklikhede. Openbaringe maar ook hoop. Dis asof die ene "1 Januarie 2024" eweskielik die outoriteit inneem om jou aan die strot te gryp en nuwe besluite te dikteer. Ek gaan begin oefen, of beter eet, of minder eet. Hierdie jaar gaan ek meer lees of tyd saam met die familie spandeer. 1 Januarie, wie ook al hy is, het die vermoë om jou om sy pinkie te draai. Hy het die vermoë om jou dinge te laat sê of dink wat partykeer onbereikbaar is. In Januarie is ons mos kwesbaar en net soos die laaste vuurwerk getrek word, verloor ons sig. "31 Maart" is weer ‘n ander ou. Hy is gewoonlik ‘n vet realiteit wat jou met ‘n plathand klap. Hy klap gewoonlik al 1 Januarie se goeie idees by die venster uit…as jy nie versigtig is nie. Baie van ons voornemens is grondliggend en is baie keer so groot dat ons eers later agterkom... "hierdie besluit verg deksels baie meer bravade as waaroor ons beskik." Genesis 1 :1 sê "In die begin, God…" So vroom as wat ons meneer 1 Januarie toelaat om voor te skryf wat ons eintlik hoop, so weet ons dat ons niks kan aanpak sonder dat God eerste of van die begin af in ons voorneme is nie. Net soos dit lig geword het na die duisternis…die eerste dag, so kom 2024… toegedraai in geskenkpapier wat anders lyk as 2023 s'n. Dalk hou ons nie van die sluier waaragter 2024 skuil nie maar dit is steeds ‘n geskenk. Maak dit oop…die Here weet !
Ek onthou die jaar toe ek standard ses toe gegaan het. Ons skoolklere was nie uniek nie. Ek is seker die Nasionale regering van daardie tyd het verskeie provinsiale skole met dieselfde kleure toevertrou. Die meisies het pampoenkleur rokke gedra…meer kapoen as pampoen, wit sokkies en swart skoene. Die seuns het bruin safaripakke gedra met die skoolembleem vasgewerk teen die linkerbors. Ek het juis daai eerste oggend in 1991 my ligbruin safaripak, ligbruin kouse…opgetrek tot onder die knieg en splinternuwe bruin Grasshoppers aangehad. Grasshoppers !... want my pa het Grasshoppers gedra en dit was die beste staatsdiensskoene, skoolskoene, kerkskoene wat manne kon hê. Tot my pa se misnoeë, het hy besef dat Grasshoppers nie deur die ‘’standard-sessie-toets’’ gelouter is nie. Nege maande in my eerste hoërskooljaar in, het my skoolskoene nege jaar ouer gelyk. Ek kon nie aan my pa verduidelik hoe my ridderlike Grasshoppers tot op hierdie punt verweer het nie. Ek kon tot vandag nog nie. Dit bly ‘n misterie.
Jos het nie skooluniform probleme nie. Hy dra wat in die kas is, wat skoon is en Lisa bepaal dit meeste van die tyd. Hier in Frankryk beteken die nuwejaar nie ‘n nuwe skooljaar soos in Suid-Afrika nie. Dit beteken eerder ‘n warm mussie, ‘n dik baadjie, longjohns en miskien ‘n nuwe koukie of buisie gom. Die vakansiegees moes terug klim in sy tas en weggebêre word, maar uit die bloute val daar ‘n sneeulaken al oor Bordeaux. Die res van die land het ‘n kombers gekry…ons is meer as tevrede met hierdie winterslaken. Dit het die kinders van voor af uit die vakansietas laat klim. Lisa het ook in die sneeu rond getrippel toe daai eerste paar flokkies val. Ons Boertjies in Bordeaux is nog nie gewoond aan sneeu nie. So ook nie die klomp Bordelais-ies in die skool nie. Dit is chaos elke jaar as dit vir ‘n dag of twee sneeu in Gironde. Almal praat daaroor…totdat sneeu volgende jaar weer sy beurt kry.
Jos se Duits begin ook stadig maar seker optel. Hy kon kies tussen Duits en Chinees in graad ses. Van volgende jaar af kan hy kies uit Spaans ook maar hierdie jaar het hy Duits. Net ‘n uurtjie ‘n week…so wat kan jy verwag. Ek ken nog nie baie Duits nie maar baie van sy Duitse woorde klink net heeltemal te naby aan Afrikaans met ‘n aksent. Ons sal dit dophou…auf wiedersehen Heuschrecke.
Groetnis/ Salutations
Die Vasberade Venters
Comments
Post a Comment