Die Verplaasde Venters

66. Om 'n boer se moer te koer.

Soos ‘n seun sestien word, moet hy seker begin dink aan wat hy eendag wil word. ‘n Dokter, of ‘n aktuaris, ‘n ingeneur of wat van geoktrooieerde rekenmeester ('n CA sê net soveel makliker). Beroepe wat baie betaal. Dit gaan mos bepaal wat hy eendag moet gaan swot. Aangesien ek nie verskriklik duidelik was wat ek eendag, as ek groot is, wil gaan doen nie, het my ouers my gestuur vir aanlegtoetse. ‘n Toets wat bepaal wat my belangstellings was en by watter ambag of beroep my tipe persoonlikheid lekker gaan inpas. 
Ek het twee neefs wat groot geword op ‘n plaas. Boer nog steeds. Die lewe daar het so lekker gelyk. Trekkerry, motorfietsry, appels  en pere eet in die boord, bergklim, kleilat, klipgooi en rugbyspeel met die volk se kinders. Ons het altyd vreeslik uitgesien om Desembervakansies op die plaas Bo-vlakte, in Barrydale, te gaan kuier. Dit was die lewe! “As ek eendag groot is, wil ek op ‘n plaas bly. Ek is 'n buitelewe-mens” het ek vir myself gesê. Ek het nooit aan die ekonomiese vereistes van boer gedink nie…net die genot en jolyt.  

So, ek het met hierdie vooropgestelde idee in my agterkop daai aanlegtoets benader. Toe die uitslae kom, het die oom vir my pa gesê: “Jou seun leun baie na die Landboubedryf toe…net jammer hulle betaal nie so goed nie.” Ek is ‘n stadsjapie. My pa het nie ‘n plaas nie… grond het hy nie en my agtergrond in ‘’boer’’ is nog minder. Nou ja, met hierdie professionele breinanalise en ongegronde realiteit, is ons fort…Tukkies toe. Ek het ingeskryf vir Bsc Landbou…Veekunde.

Iets moes ek doen om my aanvoeling vir die Lanboubedryf ietwat te verbreed, en dit was om bietjie op ‘n plaas te gaan werk in plaas van net speel. Dis dié dat ek sommer in my matriekvakansie al by huisvriende van ons se familie opgeëindig het. Oom Nets en tannie Erika Turvey het geboer op Tuinplaas op die Springbokvlakte…so 140km van Pretoria af. Hulle het geboer met mielies, saadmielies, aartappels, grondbone, beeste en vir so paar jaar met volstruise ook…daai tyd toe al die dieetkundiges meer gesonde voltruisvleis voorgeskryf het in stede van vetterige bees. Dit was ook voor voëlgriep die industrie tot sy knieë gedwing het. My eerste werk daardie Desember was om saam met Joseph, hul hardhorende volstruisvoorman, die volstruise kos te gee. Joseph het ‘n stowwerige baard gehad en ‘n vuil hoedjie op sy kop.  Joseph het twee oorpake gedra. ‘n Bleek geskeurde oorpak bo oor die nuwe bloue met 'n ZCC wapentjie vasgesteek. 'n Rantsoen met lusern en hominy chop is vir die broeipare gevoer twee keer ‘n dag. Daar was nie baie broeikampe nie, so ons het dit sommer met die kruiwa afgelaai. My werk was hoofsaaklik om te help meng, help kruiwa stoot en dan moes ek die volstruismannetjie besig hou met ‘n tak en ‘n streepsak terwyl Joseph kos gee en inglip om die eiers te kollekteer. Die wyfies het gewoonlik vlerk gesleep al langs die heining af en die statige swartveer mannetjies, met hul vuurrooi skene, afpersende ooglede, en vreesaanjaende toonnaels, het teen die draad kom stamp soos ons aankom. Ek het genoem dat Joseph effens doof was. Dit het my werk net soveel belangriker gemaak. Daar was oomblikke waar Joseph te mak was. Hy sou die blasende mannetjie se storm te laat opmerk, en dan het sy bleke oorpak nog ‘n winkelhaak by gekry. Een jaar het meer as Joseph se oorpak in die slag gebly. Hy het later ‘n trekkerdrywer geword.

So het ek meeste van my Varsity-vakansies op Tuinplaas gaan werk. Elke oggend vyfuur roep oom Nets in die gang af met sy bulderende stem: "ATTIE...ATTIE!" Dit was so indrukwekkend dat ek sommer op aandag gespring het. "Yes oom yes yess...ek's op." Dan is dit koffie en voor ses is ons by die stoor. Ontbyt was nader aan agtuur se kant. Mieliepap en geelvetbiltong. Ek het besef dat boer nie speletjies is nie. Dis flippen harde werk! Dip en spuit, kunsmis en beesmis, stroop en plant, lek en voer is maar net ‘n paar werkwoorde wat op ‘n plaas hoort. Val in of val uit seun! Ek het nou wel nie op ‘n plaas opgeëindig nie, maar dis nog steeds my droom. ‘n Stukkie grond, ‘n eenvoudige plaashuis met ‘n stoep, paar beeste om na te kyk, mieliepap en biltong en ‘n Toyota bakkie. Dis nou iets om vyfuur elke oggend voor op te staan. 
Die boere hier in Frankryk is kwaad…meer boos. Hul gemoedere het oorgekook oor wat hulle sê 'n knou is op aankooppryse vir produkte deur supermark- en industriële kopers, sowel as komplekse omgewingsregulasies. Maar die laaste strooi vir baie was die uitfasering van die belastingvermindering op diesel vir plaastoerusting. Betogers het ook 'n kollig gewerp op gegriefde vryhandelsooreenkomste tussen die Europese Unie en voedseluitvoerders. Boere voer aan dat hul nie-EU-mededingers in die buiteland nie aan dieselfde standaarde hoef te voldoen oor kwessies soos plaagdodergebruik nie. Franse boere het Donderdag hoofweë versper en kratte met ingevoerde produkte gestort en geëis dat dringende optrede teen lae plaashekpryse, groen regulering en vryhandelsbeleide geneem moet word namate toenemende betogings nader aan Parys beweeg het.

Dis chaos in die oggende werk toe. Almal probeer sekere paaie vermy en dit veroorsaak net meer angstigheid. Die owerhede het tot dusver teruggehou om geweld te gebruik teen padblokkades en ander vorme van protes, insluitende skendings of inbrake by regeringsgeboue, supermarkte en pakhuise. Die’ plekke het deurgeloop onder varkmis, vrot tamaties en selfs brandende buitebande. Frankryk se betogings kom op dieselfde tyd as soortgelyke betogings deur ander Europese lande, insluitend Duitsland en België.

Ironies genoeg, gebeur al hierdie gemors in tye waar die regering meer jongboere wil oplei. Ons verwag meer betogings soos die Olimpiese Spele nader kom. Wanneer wêreldbelangrike sportsbyeenkomste of kompetisies in jou land afspeel, raak betoging ook ‘n nasionale sport.

Groetnis/ Salutations

Die Verplaasde Venters

Comments

Popular Posts