Die Vlambare Venters
63. Oorlogsdans
Ons kuier in Potsdam, net so klipgooi van Berlyn af, hierdie week. Ons vier Kersfees en Nuwejaar saam met die Freekes. Hulle het ‘n geweldige besige agenda vir ons saamgestel en ons kon nie anders as om terug te gaan in tyd nie. Hierdie area en land is besonders ryk in geskiedenis en ons kon in al die eeue vertoef en kuier. Ek waardeer geskiedenis maar ek geniet die meer onlangse verloop van die laaste 150 jaar, meer. Enigeiets ouer, kwyn my weetlustigheid. Al die ou standbeelde het gewoonlik dieselfde perd maar net 'n ander ruiter op. Die Tweede Wêreldoorlog-geskiedenis het taamlik gewentel rondom Berlyn en dan is die rippel-effek gevoel tydens die koue oorlog tussen die kommuniste en die Amerikaners. Ons het terselfdetyd die geite van die Duitsers beleef gedurende hierdie kuiertjie. Ons het bietjie meer van hul tradisies en kultuur aanskou…so goed dat ons die belangrikheid besef het, om hierdie buurman van ons se taal aan te leer. Ten minste ‘n paar woorde…
Ons het in Dresden gedraai…'n dorpie wat deur een van die swaarste lugbomaanvalle ooit, deurgeloop het. Die straf van die drie dae lange geallieerde bomaanval, wat bedoel was om 'n Duitse oorgawe af te dwing, het die stad gelyk gemaak en tienduisende dood gelaat. Wat in Februarie 1945 in Dresden gebeur het, was apokalipties maar om te kon sien hoe die Duitsers hierdie stad herskep het, was eerbiedwekkend.
In Potsdam is daar verskeie oudhede maar daar is een spesifieke brug wat ‘n interessante gebeurtenis kenmerk. Die Glienicker Brücke (Glienickebrug) was, onderandere, die brug waar die Amerikaners en Russe spioene uitgeruil het tydens die koue oorlog. Die brug het skeiding gebring tussen die vrye Wes-Duitsland (onder Franse, Amerikaanse en Britse beheer) en die kommunistiese Oos-Duitsland…wat onder die Soviet Unie se invloed was. Die groenbrug se kleure veskil vandag nog. Die Weste-kant se verfkleur is donkerder as die Ooste…asof hulle dit meer onlangs oorgeverf het.
Die Kaiser Wilhelm Gedenkkerk in Berlyn dra nog die letsels van 1943 en is nie herbou nie…juis ter nagedagtenis. Die beskadigde spits van die ou kerk is behou en die grondvloer daarvan is in 'n gedenksaal gemaak. Dié Gedenkkerk vandag is 'n bekende landmerk van Wes-Berlyn, en word deur Berlyners "der hohle Zahn" genoem, wat "die hol tand" beteken. Aan die voet van hierdie kerk is daar ‘n Weinacht Markt, of Kersmark...een van vele in die stad. ‘n Instelling wat elke jaar oral in Duitsland opskiet vanaf 27 November (of daar ongeveer). Hierdie markte het sy vereistes. Jy benodig ‘n warm baadjie, ‘n mussie en serpie, ‘n honger maag, ‘n lus vir warm drankies….en die vermoëens om hierdie vreeslike moeilike name te kan uitspreek. Feuerzangenbowle, Flamkuchen, Rottes Glühwein, Eierpunsch, Thüringer Rostbratwurst, Currywurst en so meer. Enige iemand se tong sal knoop…maar na twee van hierdie drankies...praat jy byna vlot. My gunsteling was die Feuerzangenbowle wat 'n tradisionele Duitse alkoholiese drankie waaroor 'n rum-geweekte suikerklontjie aan die brand gesteek word en in gloeiwyn drup. Jos het besluit die Currywurst is sy gunstelling en Lisa het gesorg dat sy die Duitse Boulette resep neerskryf en saamvat terug Frankryk toe.
In Suid-Afrika het ek my nie veel gesteur aan die klapperskiet-gebruik op Oujaars nie. Dit was eerder 'n glasie iets in jou hand, "the final count down" liedjie in die agtergrond en dan tel jy af. Tien, nege, agt... Crackers en vuurwerke was deur die belhalmels van die buurt afgevuur. ‘’Onthou tog die hondjies’’ was daar altyd gesê. Die straatgroepies het mal begin gaan so van elfuur se kant. ‘’WIE SKIET SO VUURWERKE…DIS VERBODE…Ek gaan die Polisie bel. Julle is vreeslik onkonsidererend (nogal 'n groot woord vir 'n straatgroepie) !‘’ het my foon gewoonlik gepiep. Dit was die vlak van aksie wat jy kon verwag. Die Duitsers is op 'n heel nuwe kerf. Hulle hou nie terug as dit by vuurwerke kom nie. Hulle is nie net beheb nie. Berserk! Wat 'n belewenis. In 2022 het vuurwerke, wat vir Oujaarsaand gekoop is, 180 miljoen euro se verkope in Duitsland opgelewer. Dit was 'n aansienlike toename in vergelyking met 2021. Dit klap en fluit van vroegaand af en dan om middernag breek alle pandemonium los. Rook en die aroma van swartkruit en swael hang dik. Die lug word verlig en besaai met kleure. Dit klink opnuut of die RAF Spitfires die aanhoudende aanvalle hervat teen die Messerschmitts van die Luftwaffe, oor die Berlynse hemelruim. So baie, dat heelwat Berlyners sekerlik aan bomskok lei tot diep in Februarie. Teen 2:00 bedaar dit...tot volgende jaar wanneer hulle weer oorlog verklaar.
Groetnis/ Salutations
Die Vlambare Venters
Comments
Post a Comment