Die Vuisvose Venters
Ek is vanoggend bederf met ‘n lekker koppie moerkoffie in die bed. Ek maak gewoonlik deur die week die eerste koppie sawwelyf en Lisa op ‘n naweek, maar vanoggend s'n was ekstra sterk. Suid-Afrika het al 'n paar bakleiers opgelewer wat die groot arenas van die wêreld betree het. Ouens wat beroemd geraak het omdat hul klipharde vuiste die praatwerk gedoen het. Sulke ouens het Suid Afrika op die “moker-map” gesit. My pa het altyd gepraat van Jan Wilkens, ‘n reus van ‘n stoeier. Ek onthou weer ‘n paar boksers wat naam gemaak het. Manne soos Gerrie “Die Boksburg Bomber” Coetsee, Dingaan “The Rose of Soweto” Thobela, Baby Jake Matlala, Corrie “The Sniper” Sanders en ons eie Brian Mitchell. Hulle kon boks pappie! Hierdie manne het die wêreld laat wonder: "Wat weet hulle en wat eet hulle?" Vanoggend het Dricus “Stillknocks” Du Plessis, wie se ma 'n Moot-keisersnit moes ondergaan tydens sy geboorte, die nuwe Middelgewig wêreldkampioen in gemengde gevegkuns, geword. Ons het lanklaas ‘n stoere Suid-Afrikaner in die kryt gehad wat ‘n paar ordentlike klappe kon uitdeel. Baie mense wat nie die Wêreldbekerrugby gevolg het nie, moes eers uitvind waar Suid-Afrika is. Baie van hulle het nie eers geweet dat Suid-Afrika ‘n land is nie.
As ek ‘n bynaam kon kies wat vrees in my opponente se nekke kon blaas…wat sou dit wees? ‘n Superheldnaam. Dink net…as ek en Stillknocks, Boksburg Bomber, Sniper, Rose of Soweto, Brian en Baby Jake ‘n nuwe fliek sou maak, wat sou my naam wees? Van my pêlle het my "Atvies" gedoop maar in ‘n fliek waar ons moet appels gooi en vuiste wys, gaan Atvies nie enige bewerasies in my oponente se broeke laat nie. Dalk “Vieslike At” of “Atvuis”…maar nie Atvies nie. Atvies klink meer of ek 'n lewenspolis aan jou wil verkoop. Dit klink of ek jou eerder met goeie raad wil bedien (gevraagd of ongevraagd) in plaas van ‘n upper-cut. As Lisa die meisie in die fliek sou wees, sou sy haar vyande met liefde omgeslaan het. "Liewe Lisa" sou haar superheld naam gewees het en Jos,...die Boss,... hy sou almal in ‘n beswyming gedans en gesing het.
Jos het vir Kersfees ‘n “Google Nest” gekry. ‘n Assistent vir wie jy enigeiets kan vra. “Hey Google, tell us a joke,” “Hey Google, which country has the biggest oil reserves,” “Hey Google, give me some Geography facts,” “Hey Google, wake me up at 6h50 with music from One Republic.” Dis hoe dit gaan in ons huis. Hy maak Mevrou Google baie vinnig stil in die oggend…met so deur-die-poep stem: “Hey Google, STOP”. Dis asof hy sy eie Biblioteek op die punt van sy tong het. Jos se belangstelling in Aardrykskunde, Geskiendenis en Ekonomie maak ons vreeslik opgewonde. Juffrou Pikkie was my skool se Biblioteektannie. Sy was jaaaare lank daar. Ek het nie toe belanggestel om lid te raak van die boekklub of biblioteekprefek te wees nie. Ek was geen prefek nie. Lees en oplees was ‘n stryd vir my. Op Varsity, Tuks of niks, was die "Bib" daar om te swot. Iets wat uit vele oorde aan my aanbeveel was. Die Landbou-Bib was weer oorkant Oom Gert se plek. Daai Bib se ligging was uiters swak geleë na my sin. Deesdae om ons eetkamertafel, peper Jos ons met vrae oor lande, vlae, riviere, bergreekse en geskiedkundige en politiese onderwerpe. Ons algemene kennis het ook sommer toegeneem.
Ons kar moes deur “die toets” gaan. In SA moet alle karre wat eienaars verwissel, deur “die toets” gesit word voor hul geregistreer kan word op die nuwe eienaar se naam. Dan moet die lisensie elke jaar hernu word en jy moet ‘n bewys in jou venster plak sodat die polisie kan sien of jy ‘n wetsgehoorsame burger is of nie. Hier moet die karre “die toets” in Frans skryf elke twee jaar. Sodra jou kar vier jaar oud word, moet sy (want 'n kar is vroulik in Frans) “die toets” skryf. Hier noem hulle dit “contrôle technique.” So maak die Police Nationale seker dat die motors op die pad, padwaardig bly. Ons het al vier plakkers in ons venster. Een om te wys ons kan in sekere stede ry want ons het ‘n goeie CO2 gradering, een om te wys ek het versekering, een om te wys dat sy “die toets” geslaag het en een wat ons toestemming gee om ons tuinvullis by ons lokale herwinningsentrum te gaan weggooi. Die laaste plakker is die belangrikste een. Daai ooms in die oranje pakke vat nie nonsens nie. Dit lyk of ons kar balkies op haar baadjie dra. Nog een plakker, sal haar erekleure beteken en dalk prefek.
Hoe gaan dit met ons Franspraat-vermoëens, wonder julle seker? Wat jul eintlik vra is: “kan ek vir Bakkies in ‘n kopklamp pen?” Nee nog nie, maar ons druk al deur na die tweede rondte, as dit enigsins iets beteken. Om “Kalmeelperdkalmeerpil” drie keer vinnig agtermekaar te sê is net so moeilik as om “pilule tranquillisante de girafe” drie keer agtermekaar te sê. So, ons vorder.
Groetnis/ Salutations
Die Vuisvose Venters
Comments
Post a Comment