Die Fragiele Venters

67. My Brodder

Nigerië is nie bekend as die mees romantiese land op aarde nie. In werklikheid, ek twyfel of Nigerië enigsins die lys vir die top 150 mees romantiese lande sal maak. Sit die vertikale bande van groen, wit en groen saam, en jy het die vlag van Nigerië—die mees bevolkte nasie in Afrika en die sewende mees bevolkte land in die wêreld, die tuiste van meer as 226 miljoen mense. Wanneer mense van Nigerië hoor, sou mense hulle dadelik 'n groot stad voorstel vol mense en geraas. Hulle is reg. Dit is effe rof daar. Lagos het 16 miljoen mense…dis chaos in Lagos. Jou ervaringe graveer gewoonlik 'n permanente opinie in jou sienswyse oor 'n land of plek. Byvoorbeeld, in Nigerië is daar nie iets soos ‘n “bribe” nie, net ‘n “blessing”. Daai “blessing” is ‘n mombakkies. 

Ek het hierdie week in Nigerië rond getoer vir werk...nie my eerste keer nie. Ek besoek baie lande in Afrika maar Nigerië is uniek. Hierdie tyd van die jaar is dit winter en “die Harmattan”, 'n koel droë wind wat uit die noordooste van die westelike Sahara waai, is die sterkste van laat November tot middel Maart. Dit dra gewoonlik groot hoeveelhede stof, wat dit honderde kilometers uit oor die Atlantiese Oseaan kan vervoer. Die stof belemmer dikwels plaaslike vliegtuigbedrywighede. Laasweek was nie ‘n uitsondering nie. Die droë stowwerige wind het al my binnelandse vlugte belemmer en ek moes heeltyd nuwe planne maak. O ja…winter in hierdie land beteken meer as 30 grade.

Elke trippie het maar sy uitdagings maar wat hulle almal in gemeen het, is die alomteenwoordige verleidelikheid om nie by jou gastronomie-reëls te hou nie. Die reël is: “Bly weg van die snaakse kosse af in Afrika.” Weg van slaaie, rooivleis, plaaslike spyse en enigeiets wat nie oorgaar gemaak is nie. Luister…die grappie gaan so…

‘n Boer, ‘n Engelsman en van onlangs af, ‘n Fransman, stap by ‘n restaurant in Nigerië in. Vir alle praktiese doeleindes, kom ons noem hulle Jan, John en Jean. Jan bestel ‘n biertjie, John bestel ‘n pynappelsappie en Jean…’n botteltjie “whattaa” (water). Hulle kuier te lekker saam. Jean sê nie veel nie, hy mag nog nie. Jan en John is al baie langer pêlle en Jean gaan moet veg vir sy plek in hierdie vriendekring. Soos die aand aangaan, raak hulle honger. ‘’Wat gaan ons eet boys ?” vra Jan. Ek moet bysê, daar is ‘n vierde persoon aan hierdie tafel wat niemand kan sien nie maar vir wie al drie pêlle redelike respek voor het. Sy naam is Maagnus (die maag van hierdie driemanskap). Maagnus is soos die bouncer van 'n nagklub. Hy besluit wie mag in en wie moet uit. In Afrika is Maagnus vreeslik op sy senuwees…hy is ver van die huis af en hy raak gou angstig. Soos die drie manne na die menu kyk, kyk Maagnus saam. Hy is daai ‘’imaginary’’ maatjie wat oor jou skouer loer. Daai ou wat jou net ‘n kyk hoef te gee. Net sy kop te skud of te knik. Maar…hulle is nou in Afrika…die Wilde Weste van Afrika. Wat gaan hy doen? Huhh? Die bravade neem oor. Soos hulle na die menu kyk, trek hulle hulle oë soos Clint Eastwood in sy Western movies. “Do I feel lucky? Well, do ya, punk?” Die volgende oomblik hoor hulle iemand sê: “Namaste!” Dis Sanjay en sy heen-en-weer wiegende masala-koppie. Vreeslike vriendelike kêrel...and all. Asof dit nie ‘n toeval was nie…sien hulle vir Santiago, met 'n brandrissiemussie op, nader stap. “Hola” groet hy met so growwe en gloeiende stem. “My brodder…how was your night?” vra Musa met ‘n peperasem. “Wie is dié ou?” vra Jan. “I will take your order, my brodder.” Dis hier waar Maagnus natuurlik op die toppunt van sy stem skree : “BOYSSS….HOU BY DIE REËLS!” Hulle steur hulle nie aan hom nie. Elke nou en dan maak hulle dieselfde fout…en dit is om Maagnus se emosionele uitbarstings te ignoreer. Soos ek gesê het, Maagnus is angstig en senuweeagtig…en hy besluit of hy jou in sy huis wil toelaat. Dis hoe dit begin…Sanjay, Santiago en Musa dink hulle verdien hul plekkie in die son en Maagnus dink nie so nie. Maagnus gooi hierdie onwelkome gaste eers bietjie rond voor hy hulle by die agterdeur uit boender…tot die ontsteltenis van die drie J's…en hy doen dit gewoonlik wanneer hulle dit nie verwag nie. In die vroeë oggend ure, wanneer hulle lekker slaap. Spyt kom altyd later. Dié bakleiery bring ‘n gekreun en ‘n gesteun na vore wat Jan, John en Jean opnuut herhinner aan hoekom daar reëls in plek gestel is. Die 3-J's het ook ‘n back-up plan. Hulle vlieg gewoonlik nog ‘n denkbeeldige vriend saam. Maagnus se terapeut. Sakkie is sy naam. Sakkie Pille. Hierdie terapeut het een rol. Hy moet Maagnus tot bedaring bring en gaan jammer sê. Onderhandel. Hy moet Maagnus se eer herstel. Dis al hoe Jan, John en Jean moed gaan hê om die volgende oggend op te staan. Sakkie is ‘n yster maar Maagnus se huis is nog deurmekaar na die stoeiery maar hy is gesmoor. Vir die komende trippies na Afrika gedra die manne hulle goed…totdat hulle weer met Tydelike geheuverlies gediagnoseer word.
Dit was toevallig ook hierdie week dat Bafana Bafana teen die Nigeriese Arende gespeel het in die semi-finaal van die AFCON Sokkertoernooi. Ek was die enigste Saffa in daardie restaurant. Die spanning het hoog geloop. So hoog soos die keer toe die Springbokke teen Frankryk gespeel het. Gaan ek weer die vreugde kan herleef om in die einste land te sit waar SA die wedstryd onder hul neuse gryp? Dit was amper maar toe tree hulle aan vir die strafdoele. “Waar is Polly nou? Is daar Pollards in die Bafana-span?” Helaas nie. 
Dis ook Valentynsdag hierdie komende week. Die nasionale blom van Nigerië is die “Yellow Trumpet” (Costus Spectabili) maar ek dink eerder dis die Plastiekus Spectabili. ‘n Blom wat meer algemeen voorkom. Die hele land is besaai met hierdie spesie wat regdeur die jaar blom. Dit waai sommer oor die pad soos jy ry en kom voor in verskeie kleure. Ek het gedink om vir Lisa van hierdie blomme te koop want jy hoef hulle net een keer in ‘n leeftyd water te gee. Hulle gaan nie vrek nie. Dis of dit of ‘n vetplant.

Groetnis/ Salutations

Die Fragiele Venters

Comments

Popular Posts