Die Verkleefde Venters
Uganda is bekend as die Pêrel van Afrika en vir hul gasvryheid, hul vrygewigheid en verwelkoming teenoor besoekers. Die kultuur van Uganda lok ook toeriste. Met meer as 50 stamme wat in die land floreer, is Uganda ook 'n tuiste van die Afrika Groot Vyf soos Luiperds, Renosters, Buffels, Olifante en bo-op alles, die unieke boomklimleeus. Hulle spog ook met die hoogste digtheid van primate in die wêreld. So, wanneer jy gedurende die Europese wintervakansie op ‘n vliegtuig klim om Uganda te gaan besoek, kan jy maar weet, daai kite gaan vol Europëers en Amerikaners wees wat na die mees bekostigbare Safari-bestemming gaan, om apies te gaan kyk.
Verbeel jouself: “Ryna, Ryna…kyk die apies!” in Hollands, Russies, Engels, Amerikaans, Frans, Spaans, en bietjie Afrikaans. Yip, die skole is gesluit en die vliegtuig is vol kinders wat hulle ook maar soos ‘n klomp apies gedra. Op die KLM vlug van Amsterdam na Entebbe, besluit ek, ek gaan stadige Hollands-Afrikaans probeer praat met die lugwaardinne. Ek bedoel, ons is tog familie. Ek het genoeg selfvertroue bymekaar geskraap om dit te probeer. Veral na ek ‘n briefie van hulle op my sitplek gekry het om my terug te verwelkom op die KLM vlug…van ene Mev. Madaleen Felix…asof hulle my gemis het of dalk vlieg ek net te veel. “Lemoensap asseblief” vra ek ewe. Dadelik skakel sy oor Engels toe. “Do you want Lemon juice?” vra sy frons. “No, orange juice please” herhaal ek. “Ah… Sinaasappelsap.” Langzaam Afrikaans kan jou ver bring maar ook net so ver…dan moet jy Hollangs kan praat.
Van Entebbe af ry ons langs die Presidensie verby. Yoweri Museveni se huis sedert 1986. Hy is gebore in 1944 en behoort gedurende die 2026 verkiesing weer sy 74ste verjaarsdag te vier. Jonk genoeg vir nog ‘n termyn. Polietiese-wiskunde is grys, ek weet. Hierdie land, wat so groot soos Brittanje is, het 82 ministers. Soveel ministers met soveel portefeuljes moet beteken: “Hier is baie werk!” Snaaks genoeg, moet die president alle besluite afteken. Seker hoekom die teerpaaie in Entebbe pragtig lyk maar dié in Kampala uitmekaar val. Ek persoonlik dink hy moet die Minister van Slaggate ‘n bonus gee en die Minister van Slaggatopvulling penalisseer. Nie eers gepraat van die verrigtinge van die Minister van Verkeer nie. Tragies genoeg...bly Uganda se mense hul hoofuitvoerproduk. Menigte jongelinge gaan soek werk oorsee...meestal die Midde-Ooste...net om 'n geldjie huis toe te kan stuur.
Die pad vat-vat aan die banke van die Victoriameer. Die grootste meer in Afrika en die tweede grootste varswatermeer ter wêreld. Hierdie antieke meer is ongeveer 400 000 jaar oud en is een van die bronne van die magtige Nylrivier. Aangekom in Kampala, die stad wat nooit slaap nie, wemel dit van mense, 3.5miljoen van hulle en duisende Boda-Bodas. Daar is vermoedelik meer as 200 000 geregistreerde Boda-Boda's in Kampala alleen, en 'n geskatte drie miljoen regoor Oos- en Sentraal-Afrika. Die term (Boda-Boda) het oorspronklik verwys na die karweierbesigheid binne smokkelbedrywighede oor die Uganda Kenia-grens in die 1980's en vroeë 1990's. Die karweiers het óf oor die grens geloop, fietse of motorfietse gebruik. Dit was die karweierbesigheid waarna plaaslik verwys is as Boda-Boda wat grens tot grens beteken. Hierdie 125cc Boxer-motorfietsies van Indië is baie gewild en die bestuurder laai maklik twee passasiers op…selfs ‘n derde en as dit moet, ‘n vierde as dié een nog aan die bors drink. 40% van alle trauma gevalle by hospitale is Boda-Boda ongelukke. Hul minagting vir die verkeersreëls is die rede hiervoor…iets wat Paul Kagama, president van hul buurland Rwanda, hoegenaamd nie toelaat nie.
You picked a fine time to leave me, Lucille
Die volgende oggend, groet 'n luide Kenny Rogers my by die hotel se ontbytsaal. Die hotel word besit deur Indiërs wat jare terug al hulself in Uganda kom vestig het. Daar is 'n aansienlike gemeenskap van die Indiese diaspora en mense van Indiese afkoms, na raming 30 000, in Uganda. Op sy hoogtepunt het hierdie gemeenskap in die 1960's tussen 80 000 tot 100 000 mense gestaan. In 1972 het die Ugandese diktator Idi Amin egter 'n bevel uitgereik om alle Suid-Asiërs uit die land te verdryf te midde van 'n agtergrond van anti-Indiese sentiment en Swart oppergesag. In reaksie op die uittog het Indië, die Verenigde Koninkryk en verskeie ander lande diplomatieke bande met Uganda verbreek.
Nadat die Tanzaniese inval in Uganda Amin omvergewerp en hom na Libië verban het, het baie Indiërs in die loop van die 1980's en 1990's geleidelik na die land teruggekeer en het weer die land se ekonomie oorheers, wat ten minste 40% daarvan uitmaak. Ondanks die feit dat dit minder as 1% van die bevolking uitmaak, dra Uganda se Indiese gemeenskap na raming tot 65% van die land se totale belastinginkomste by.
You've got to know when to hold 'em
Know when to fold 'em
Know when to walk away
And know when to run
Hierdie hoteleienaar hou van Kenny Rogers in die oggende en Kenny G in die aande. Kenny G en Michael Bolton. Ek dink nie hy ken nog ‘n Kenny nie…daarom Michael Biltong. Vrugte is volop…regdeur die jaar, enige tyd van die dag. Waatlemoen, papajas, pynappels, grenadellas...avos en nog vele meer. Hierdie land is vrugbaar! Twee mielieoeste per jaar maak hulle die graanmandjie van Oos-Afrika. Ek is seker as jy ‘n droë besemstok in die grond druk sal hy na twee maande begin bot. Soos die week einde se kant toe staan, sing Kenny vir ‘n laaste keer.
Islands in the stream
That is what we are
No one in between
How can we be wrong?
Al die vakansiegangers klim terug op die oorvolvlug. Hier is nie genoeg plek nie. Iemand gaan moet agterbly…iemand en sy sakkie weggesteekte avos. Nog 'n nag maar in 'n ou..stilswyende hotel. Al wat in my kop resoneer is Michael Bolton.
When a man loves a woman
Can't keep his mind on nothin' else
Ek mis my huis, my laaitie….my wyfie.
Groetnis/ Salutations
Die Verkleefde Venters
Comments
Post a Comment