Die Fugato Venters

71. Mozart se maagseerwals

Jarre terug, ek praat van jaaaare terug, toe ek seker graad twee se koers was het my ouers goed gedink dat ek klavierlesse by tannie Leonor moes neem. “Dit help mos met wiskunde”: sê almal. Nou ja, ek kon seker doen met bietjie ekstra wiskundigegeletterdheid daai tyd. Een maal per week vat ek my sakkie boeke en stap ek drie huise verder op in die straat…na tannie Leonor se klavierklas toe. Dit was oulik aan die begin. Mos iets nuuts. Maar soos die tyd stap moes jy jou toonlere ken en weet waar middel C, D, E is en 'n flippen F met jou domvinger kan speel. 

Een geleentheid wat ek gekry het was om aan Unisa se Voor-Graad-een eksamen deel te neem. Dit was die eerste klaviereksamen wat ek moes aflê in ‘n saal vol ouers. Een van die stukke was ‘n duet. Ek het ‘n blou demin en ‘n rooi knopieshemp met ‘n klein geel palmboompie op die bors aangehad. Met my swart skoolskoene natuurlik. Richard was my mede pianis…ook ‘n Venter. Hy het sy grys skoolbroek, wit langmouhemp en ‘n wynrooi strikdas aangehad. Miskien moes ons maar probeer het om dieselfde te lyk. Dis nou te laat. Twee swartklaviere het op die verhoog gestaan. Ons neem stelling in…skuif die stoeltjie effe reg, vingers op die klawers en toe “een, twee, drie”. Daar druk ek te vroeg. Dammit. Ek stop. Ons kyk weer vir mekaar, knik soos ons binne ons koppe tel en toe trek ons los. Ek kan nie onthou dat die gehoor ons met ‘n staande applous toegejuig het nie. Geen blomme is opgedra en ons het ook nie heen en weer oor die verhoog gestap en gebuig nie. Geen ‘’ENCORE…ENCORE’’ nie. Nope, dit was maar tjoepstil…net my ma het geklap. Een van daai handeklappe wat luid begin en dan vinnig na niks verander wanneer sy agterkom sy was die enigste een wat klap.   

Daai volgende vakansie gaan kuier ons by Oom Lafras op hul plaas in Setlagole naby Stella, en klein Frassie speel ook klavier, maar hy is ‘n hele paar lesse voor my. Toe hy klaar getokkel het, toe sê my pa ek moet ook speel. Daar slaan ek ‘n blank. “Speel een van jou eksamen stukke. Speel Mozart se maagseerwals” sê hy. Ek kan niks onthou nie…niks. Net Vader Jakob. Dit was ‘n vreeslike teleurstelling vir my pa gewees. ‘n Paar weke later het tannie Leonor ook aanbeveel dat ek eerder moet konsentreer om buite te speel as om te konsentreer om te konsentreer. As ek vandag terugdink…kan ek net sê: "ai." Ai tog. Nie dat my wiskunde daaronder gely het nie…dit sou net lekkerder gewees het om nou klavier te kon speel. Dit is soveel makliker om iets te leer as jy jonk is. Om ‘n instrument te speel is soos om ‘n nuwe taal te leer. Iemand het my vertel dat kinders meer leer  deur wat hul hoor en ons oues, meer deur wat ons lees. Daarom sukkel ons om te praat want dit klink nie soos die woorde wat ons lees nie. 

Daarom het ons ‘n klavier gekoop! Jip…ons eerste toevoeging tot ons Franse huisie hier in Frédéric Chopin straat. Lisa het onmiddelik die akkoorde laat reën in ons huis en Jos het tjoeftjaf sy ou wysies onthou. Ons is op ‘n missie. Ons wil weer klavier leer speel. Lisa kan reeds speel en sy betower toentertyd al die nag met die geluide uit haar klavier. Jos wil Mozart se Simfonie nr. 40 in G mineur kan speel terwyl ek Vader Jakob met twee hande moet kan tokkel. Als deur ‘n applikasie op ons foon. Kom ons kyk of my wiskunde verder, en hopelik my Frans, daarby kan baat.
Vandag het ek weer die Fêtes les Vins 12km wedloop gehardloop maar hierdie jaar was dit saam met Lisa. Dis haar eerste wedloop na die Wally Hayward 21km in 2018 (haar eerste half marathon), maar ook die eerste een na haar kniegoperasie twee jaar terug. Ek weet nie wie was blyer nie…ek of sy? Die weer het weer nie teleurgestel nie. Net soos laasjaar begin ons in die reën en dan in die tweede helfde kry ons sonskyn. Bizarre né? 

More is Lisa se verjaarsdag. Haar tweede een in Frankryk en moreoggend, gaan ek en Jos ons drie se tradisie voortsit. Cup cake met ‘n kersie wat brand, en ‘’Veels geluk liewe mamma, omdat jy verjaar” sing. Dan maak Lisa gewoonlik asof sy uit haar diepe slaap ontwaak. Hierdie gebaar is gewoonlik ‘n vreeslike groot verrassing…als tot die blydskap en opgewondenheid van Jos. Veels geluk lyfie. Jy is kosbaar en ‘n God-vresende vrou met vele talente. Ons is lief vir jou.

Groetnis/ Salutations

Die Fugato Venters

Comments

Popular Posts