Die Verhaalde Venters
69. Bobbejane klim die berg
Dis die laaste week van ons wintervakansie en hierdie tyd van die jaar gaan meeste Franse die berge in. Om te ski. Die Pyrénées is sommer naby ons…so drie ure se ry. Dis die eerste keer dat ons in Februarie ‘n paar dae vat om vakansie te gaan hou. Dis ook ons eerste keer Pyrénées toe in die winter. Waaroor gaan al die bohaai? My wintermaande het voorheen anders gelyk. My kleredrag, my skoene, my hoed, my missie…ek was duidelik op ‘n ander missie as hierdie winter. "Ek het ‘n familie om voor te sorg…genugtig!" was my verskoning. Gedurende die wintervakansies dra ek gewoonlik ‘n khakibroek, ‘n two-tone hemp met vellies en ‘n camo hoed op my kop. ‘n Camo baadjie is net vir die oggend tydens koffie en beskuit voor ons begin stap. O ja…en ‘n Ruger .308 geweer, met ‘n Leupold teleskoop op en ‘n klompie 165gr Sierra Gameking koëels in my sak. In Suid-Afrika jag ons in die winter…sneeu is ‘n vreemde. Veral in Pongola. Pongola het mos net drie maande van die jaar somer en die res van die tyd is dit hel. 6h15 staan ek op. 6h30 is dit koffie en beskuit saam met Swys, Janx en Deef. Nou bespreek ons wie stap waar en met watter gids. Swys is die fikste, hy vat die berg. Sy .303 het ‘n silencer op. Dis gewoonlik waar die strooi begin. Watookal Swys in die berg skiet, gaan ‘n reddingspoging met ‘n helikopter verg. Deef kies die gids wat nie ‘n woord Engels of Afrikaans kan praat nie maar op een of ander manier sal hulle aan die einde van die dag saamstem dat Fikile Mbalula nie die volgende president moet wees nie. Deef rus eerder by die watergat met sy dikloop .243 …net in geval ‘n vlakvark verby kom of met sy .30-06 indien ‘n Njala voor hom instap. Janx kry die dik gids. Die gids wat meeste van die tyd in die pad stap. Hy gaan nie moeite doen om deur bosse te klouter of spore te volg nie. Hierdie is ‘n opportunistiese gids. As die geleentheid hom voordoen en hul loop hul vas in ‘n Bloue…dan gaan Janx moet vinnig skiet. Dit pas vir Janx….die geloop in die pad, nie die vinnig skiet nie. Ek kry weer die gids wat als hoor en dan vinnig stop. Hy sal met sy vinger aandui: “Shhh”…en dan wys hy na sy oor en maak dan twee horings bo sy kop. Hy buk-buk om deur die takke te sien. My vinger is reg. Ek moet net die safety afhaal…en dan sê hy: “Gone”. So stap ons heel dag buk-buk, shh-shh, horings, gone! Aan die einde van die dag deel ons almal ons verhaal. “Ag dis nog niks..” moet elkeen sy storie mee begin. Dis die reël. Anders is jy nie ‘n jagter nie. Jou storie moet altyd beter klink as die vorige ou s’n.
Hierdie jaar moes ons Pongola verruil vir die Pyrénées. In Frankryk is dit ski-brille, ski-broeke, ski-baadjies…warm baadjies, ‘n mus, handskoene en ‘n paar skis aan jou voete. Eers hou jy aan ‘n pyp vas wat jou teen die berg op katrol en dan gly jy weer af tot onder. So doen hul dit weer en weer en weer. Dis ski. Ons Boertjies van Bordeaux kan nie ski nie maar ons besef ook dat dit voordelig vir ons integrasieproses kan wees as ons moeite gaan doen om te leer ski. Dis kultuur in die berge. Ons het uitgestaan soos ‘n pitseer. Ons het nie ski-bootse nie, nie groot ski-brille, fancy waterdigte shocking pink of groen ski-klere nie. Ons was die drie Afrikane met Old Khaki jeans en K-Way baadjies aan. Die drie Afrikaners wat selfies neem van elke witgesneeude berg, pas of uitsig. Ons is die drie Boertjies wat 'n sneeuman probeer maak. Ons eerste een. Een wat uit die ystydperk datteer. Dit was ons. Dit was pragtig.
Maar, dis nog niks! Ons het ‘n paar bergpassse gery wat in die berg-been van die Tour de France roete is. “Col” soos hulle dit noem. Soos ons styg, kry ons ‘n paar begeesterde fietsryers wat hierdie “Cols” uittrap. Col d’Aspin, Col de Peyresourde en Col de Val Louron-Azet. Dis steiler as Suikerbossie en Chapman’s Peak. Vra ons…ons weet. Ek en Lisa het die Cape Argus al ‘n paar keer gery met ons tandem. Die dryfveer vir tandemry was sodat ek die briek-werk, stuurwerk en die ratte verwisselling kon doen en Lisa, die praatwerk, geselswerk, lagwerk en trapwerk. Dit was ‘n suksesvolle resep. Net teen Suikerbossie en Chappies moes Lisa minder van die ander en meer van die trapwerk doen…anders sou ons nie bo uitgekom het nie. Ek en Lisa het net nie ons fiets ingepak nie, anders het ons hierdie “Cols” ook uitgetrap. Dalk nie hierdie keer nie, maar volgende keer.
Al rede hoekom ons huiswaarts moes keer, was omdat die beskuit begin opraak het. Wat is beter as beskuit en koffie, ‘n kaggel, ‘n groot woonkamervenster en ‘n majestueuse berg…spierwit. Jy kan nie ophou kyk nie. Dis almagtig.
Groetnis/ Salutations
Die Verhaalde Venters
Het nou, soos elke keer jou 3 in een storie baie geniet!!
ReplyDeleteDankie vir die lekker lees episodes.