Die Vreetsame Venters
70. Opgekoffie
Ek het hierdie week vir die eerste keer via Istanbul, met Turkish Airlines, in Ethiopië aangeland. Die Turkse stop het geen betekenisvolle impak in hierdie storie nie behalwe dat dit opmerklik was hoeveel mans op die lughawe rondgeloop het, wat so pas uit ‘n haaroorplantingprosedure gekom het. Turkye het homself stewig gevestig as 'n wêreldwye middelpunt vir haaroorplanting. Stel jouself net voor, ‘n klomp kaalkoppe… almal met sulke klein bruin knoppies op hul koppe…asof hul reg uit die plantseisoen gekom het en nou net moet wag vir die oes om op te kom. Dit was ‘n vinnige stop in Istanbul en ‘n laat aankoms in Addis Abeba. Ek ken ‘n paar “random” feite van Ethiopië maar het nog nooit dieper gegrawe nie.
Ethiopië is strategies geleë in die Horing van Afrika. Sy nabyheid aan die Midde-Ooste en Europa, tesame met sy maklike toegang tot die belangrikste hawens van die streek, verbeter sy internasionale handel. In terme van hoogte bo seevlak, staan Addis Abeba (wat Nuwe blom in Amharies beteken) as die hoogste hoofstad in Afrika en die vierde hoogste hoofstad ter wêreld met 'n hoogte van 2 335 m bo seespieël.
Ethiopië is Afrika se oudste onafhanklike land, selfs ouer as Egipte blybaar, en sy tweede grootste in terme van bevolking (meer as 120 miljoen mense). Afgesien van 'n vyf jaar lange besetting deur Mussolini se Italië, is dit nog nooit gekoloniseer nie. Inderdaad, Italië kon 'n deel van antieke Ethiopië in die laat 19 eeu, die gebied langs die Rooi See, koloniseer. Dit was die kolonie, en nou onafhanklike land, van Eritrea. Maar in 1935 het Italië 'n tweede inval geloods. Ethiopië is deur Italië beset totdat die Italianers in 1941 deur die Britse Ryk verdryf is, met hulp van Ethiopiese guerrillavegters. In Ethiopië was daar altyd weerstand en Italië het geen tyd of hulpbronne gehad om 'n volledige koloniale infrastruktuur te ontwikkel, soos hulle in Somalië en Eritrea gehad het nie. Hulle was van 1939 af nogal besig in Europa. Selfs voor dit was hulle nie ten volle in beheer nie.
Hierdie brokkies geskiedenis het Jos ons vertel tydens ons Saterdagoggend-draffie. Hy skop maar teen die Saterdagoggend-oefenroetines. Dis dié dat ek met gister se poging probeer het om sy aandag van dié strawwigheid af te haal deur hom ‘n paar histories feite te vertel. Hy het op die oueind die praatwerk gedoen…ons moes net draf en luister. Ek kon dit wel so bietjie inkleur met datums. Ons was verbaas!
Buiten hierdie kleurryke verlede is daar ‘n paar ander fassinerende feite oor hierdie land. Dit word bevestig dat koffie die eerste keer in Ethiopië ontdek is en deur slawehandel en ander maniere oor die wêreld beweeg het. Daar is verskeie verhale oor presies hoe dit ontdek is. Een bewering is dat 'n 9de eeuse bokwagter in Ethiopië opgemerk het hoe energiek sy bokke geword het wanneer hulle uit 'n sekere bos gevoer het. Dit het daartoe gelei dat hy die vrugte van die bos probeer kou het. Hy het hierdie vrugte na 'n klooster geneem en 'n monnik het dit in die vuur gegooi. Die aanloklike aroma het ander monnike gelok en die vrugte is in warm water opgelos, wat die wêreld se eerste koppie koffie opgelewer het. Julle het seker geraai dat koffie Etiopië se hoofuitvoerproduk is, maar weet julle wat is hul twee grootse uitvoerkomoditeit?
Chat (of te wel Catha edulis, Khat of Qat) is 'n immergroen plant wie se blare algemeen gekou word in Jemen, Madagaskar, Saoedi-Arabië en Oos-Afrikaanse lande. Dit word wyd verbou in die Ethiopiese hooglande van die Oromia-streek en word beskou as Ethiopië se tweede grootste buitelandse valuta verdiener. Die algemene effek van die verbruik daarvan lei tot slapeloosheid, 'n toestand wat die gebruikers soms met kalmeermiddels of alkohol probeer oorkom. Die verbruik daarvan kan moegheid verlig (soos Red Bull), opwinding bevorder (soos roomys), braafheid verhoog (soos brannewyn) en slaap en honger onderdruk (soos koffie). Hier is die probleem…as iemand die dag chat eet, funksioneer hy soos ‘n kampioen. Hy is vreeslik produktief, maar om van die newe efekte ontslae te raak, moet hy suip en van te veel suip, moet hy slaap. Dit sit hom uit produksie vir ‘n hele dag. So, moet die gebruiker sy babbelasdag inhaal wat hy agter geraak het en die beste manier is om ‘n stukkie chat te kou, maar dan moet hy eers weer suip om te kan slaap. Dis ‘n bose kringloop.
Die tyd staan stil in Ethiopië. Toe die Roomse kerk sy antieke kalender in 525 nC aangepas het, het Ethiopië nie sy kalender verander nie en dus is Ethiopië sewe jaar agter die Gregoriaanse kalender. Vandag is dit 1/7/2016 in Ethiopië. Hulle het 13 maande in 'n jaar (dit wil sê 12 maande met 30 dae elk en 'n 13de maand met 5 dae in 'n gewone jaar en 6 dae in 'n skrikkeljaar). Kersfees word op 7 Januarie in Ethiopië gevier. Nie net is die kalender anders as ons s'n nie, hulle gebruik ook hul eie horlosie. In 'n stelsel wat regtig sin maak, begin die dag wanneer die son opkom. 1 uur is sonsopkoms, en 12 uur is sonsondergang, dan het hulle 'n 12 uur nag horlosie ook. Wanneer iemand jou die tyd vertel wanneer jy daar is, maak net seker jy kyk of dit Ethiopiese tyd of Westerse tyd is!
Iets wat ek nie sommer mis in elke land waarheen ek toer nie, is om te kyk wat ry die manne daar. Hou hulle ook van ‘n Cruiser of ‘n Hilux? Sien ek ook ‘n spul Fords met Raptor kits op? Wat sou ek koop as ek daar gery het? Wel, hierdie antwoord is heelwat moeiliker vir my om te antwoord as in Frankryk of Suid-Afrika. Ethiopië se belastingstelsel maak motors onbekostigbaar vir gewone burgers. Diegene wat wel voertuie in Ethiopië koop, betaal twee keer soveel as Keniane wat net oorkant die grens woon. Twee keer soveel as wat ek selfs in SA sou betaal het. ‘n Tweedehandse Yaris gaan jy maklik $15 000 voor betaal. Belaglik! Seker hoekom al die karre in Addis is en hoe verder jy wegry, dit meer in natuurlike perdekrag verander. Een of tweeperdekrag waentjies.
Ons het al vir ‘n jaar en ‘n half ons eie potjie gekrap maar nog nie ‘n potjiekospotjie nie. Die Bosmans het potjie gemaak en ons kon van voor af nostalgies raak. Ons eerste potjie-potjie in Frankryk. Mmm…hoe kon ons van dit vergeet het ? Dis mos nie moeilik nie. Al wat jy benodig is ‘n idee, baie vleis en groente, ‘n moerby resep, tyd, ‘n glas rooiwyn en geselskap. Dis wat die Bosmans gebring het en om dit af te rond…Marleze se Peppermint crisp tert. Hemels.
Groetnis/ Salutations
Die Vreetsame Venters
Comments
Post a Comment