Die Frustrerende Venters

73. Kopskoot

Elke jaar hierdie tyd kry ‘n man mos ‘n jeuk. ‘n Krapperigheid. ‘n Lus…’n begeerte om iets dood te maak. Eerder ‘n hartstog om iets te gaan jag. Party kry daai nuk sommer regdeur die jaar. Ek ondervind deesdae erge onttrekkingsimptome en daar is net een wondermiddel wat hierdie narigheid kan hokslaan. Dis gewoonlik die tyd van die jaar waar ouens hul baadjies nader trek want daar is mos ‘n koeligheid in die maanlig. Met hul camo-baadjies en geweersakke…vat hul die tog skietbaan toe aan. Net om seker te maak die roer skiet nog waar hy moet. Tussen ‘n duim-en-‘n-half en twee-duim hoog op 100 meter was ‘n goeie reël wat Chris my geleer het. Dan sal enige iets val tussen 100 en 200 meter. Ek wou ook nie te veel skote vuur nie…tussen drie en vyf was genoeg. Die res gaan ons mos in die bos trek. 
So was dit ook die dag toe ek en Dirk en Deef gemsbokke in die Kalahari gaan jag het. Van Zylsrus se wêreld …net so duskant Hotazel. Dit was eerstens ‘n redelike rit te perd na daai plaas toe, maar ons het nietemin daar aangekom… laatmiddag. Ons het gekamp rondom 'n vuur. Daar was ‘n long-drop met die mooiste uitsig na een van die mooiste sonsopkomste, en ‘n kraan vir water. Dit was dit. Geen elektrisiteit... toe al. Ons menu was eenvoudig. Koffie en beskuit voor ons uitgaan, vleis en eiers vir brunch en vleis en braaibroodjies in die aand. Tussendeur was dit biltong en droëewors. Jagkos. Chris en Christo was ook saam. Hulle is gesoute jagters. Geduldige ouens wat waardering het vir die ervaring. Ouens wat graag ander eerste laat skiet…soos ons. Die hoeveelheid bokke wat hulle al geskiet het sal nie op al ons bakkies saam kon pas nie. Ons was die nuwe generasie jagters daai tyd…eerder nuut in jag. Daai jagter wat net wil skiet as hy iets sien. Ons sal later ons bekommer oor die begroting en hoe ons gaan betaal.
Die volgende oggend is ons fort met my Hilux. ‘n Dubbelkajuit met ‘n kappie op. Omdat dit in die Kalahari was, was die skote ver, of so het ons gedink. Ek het bestuur en Dirk en Deef het agter op die laaibak gestaan sodat hulle sommer van die kappie af kon skiet. So suiker ons al langs die sandpaadjie af, opsoek na ‘n gems. Die volgende oomblik klap Deef op die dak: “STOP STOP SSSTOPP”…maar met so saggiese maar tog dringende plof-stem. Dieselfde stem wat jou ma gebruik het as sy met jou geraas het voor baie belangrike kuiergaste. Daai stem wat sy maak wanneer sy op haar kiestande byt en met haar voortande praat dat die speeksel so in haar mondhoeke opbou. As die uitvreet te lank aangehou het, moes sy eers hierdie sielswroegende spoegsel, wat jy nou veroorsaak het, sluk voor sy kon terugkeer met ‘n glimlag na die gaste. Dis 'n vinnig en hewige stem want die "kyke" werk nie meer nie. Dit was die laaste teken dat jy baie naby aan ‘n moeviese pakslae was. Terug by die klap op die dak. Daar stap toe ‘n gemsbokooi oor die pad…nie ‘n grote nie…maar ons gee mos nie om nie. Sy het horings en sy beweeg. Dewan trek die skoot. Sy spring byna twee meter in lug in en toe, karplaks…plat op die grond. “JAAA!!!” bulder ons al drie met ons diepste grofste stemme denkbaar. Ek is so bly, ek jaag sommer reguit na die bok toe. Dirk en Deef moes net vashou vir ‘n vale. Daar aangekom…net toe ons almal af- en uitgeklim het om te gaan kyk, spring hierdie ooi wragtig op en begin weg draf. “WAT DE VREK?” Ons gewere lê in die bakkie en daar gaan die bok. Nou raak ons angstig. Ons probeer ‘n bloedstreep kry. Gelukkig besluit ek om tot bo-op die duin te hardloop en sien toe die bok wegdraf van my af. “Ek gee nou nie om nie maar daai bok moet lood kry…ek gee ook nie om waar ek haar tref nie. Sy moet net val” peins ek. Ek kry haar in my teleskoop, my asem jaag nog. Twee diep asems en toe stil…Bang! Kopskoot, sommer van agter af. Ek dink die Here het daai skoot getrek want ek skiet regtig nie soo goed nie.

Dankbaar, kom ons vir ‘n tweede keer by die lyk aan. Dewan het haar mooi in die ….bek getref. Sy het tydelik bewussein verloor omdat haar tande uitgeskiet was. “Deef…jy het gesorg vir tandpyn, tjom!” Ons neem gou ‘n paar fotos en toe begin ons kontempleer hoe ons hierdie bok gaan laai. Die bakkie se bak het ‘n mooi rakstelsel ingehad met pragtige mat oorgetrek. “Ons wil mos nie hierdie mat belemmer met bloed nie, né boys? Nee, ons wil nie” sê ek vir die manne. Die beste was om die bok op die smal laaibak vas te maak. Ons het vreeslik gesukkel want al wat steek is horings. Haar horings kan net nie hul lê kry sodat dit nie die bakkie krap nie. Ek gee nie om vir ‘n lastige doringtak wat die bakwerk ‘n krappie gee nie, maar ‘n gemsbokhoring is in ‘n ander krapkategorie. “Wat doen ons boys?” Die eerste plan wat opkom was ook die beste en enigste plan wat ons gemaak het. Die plan was soo goed dat, al was daar ‘n beter plan, sou dit nie so awesome soos hierdie plan gewees het nie. ‘n Plan wat enige stoere jagter sou gemaak het. “Kom ons sny haar kop af!” sê ek. “JAAA!!!” bulder ons weer. Die beste plek vir hierdie gemsbokkop was natuurlik in ‘n boom. Af-kakebeen, sleeptong en al, pronk sy in ‘n mik. Die ergste was toe ek daar weg trek en die eerste geluid wat ons hoor was: “doef”. Ons kyk stip vir mekaar…”Ek dink die bok het af geval!” sê Dirk. Jip, so wraggieswaar.
Daar is iets in die lug hierdie tyd van die jaar wat heimwee bring. Dis nie net die koeler luggie nie. Dis die reuk van buskruit en geweerolie wat die testosteroon in ‘n man se ligaam aanskakel. Wat die drang om vir sy familie te sorg laat ontplof…en daarom jag ons. Sodat ons kinders nie honger ly nie. Ongelukkig het die weer in Frankryk hierdie tyd van die jaar ‘n wrangsmaak. Ek weet hoe dit moet ruik en dit ruik nie so nie. Buiten die feit dat winter net so nou en dan die deur oopskop en van vooraf met lente wil baklei, is buskruit, geweerolie en camo baadjies iets wat die Franse sal frons oor. Blerrie sissies. 

Ek en Jos was saam met ‘n ander pa en seun by die Bordeaux versus Claremont rugbywedstryd. Dis hier waar ek weer te kenne gekry het met die emosionele Franse ondersteuner. Ek kan my net indink hoe dit moes geklink het toe die Springbokke uitgejou was deur meer as 60 000 Franse fluiters tydens hul Wêreldbekerwedstryd. Als is nou deesdae die skeidsregter se skuld. Terug by die pa en seun uitstappie. Ek moet bynoem…dit was ‘n pa en seun wat net Frans praat. Niks Engels of Afrikaans nie. Dit was maar ‘n geproes en ‘n gehoes van my kant af maar ek oorleef hierdie gesprekke al baie beter. Die hoogte punt vir Jos was die fight. Toe die stut en die slot mekaar rondgepluk het. Dit was sy eerste opmerking. Dit en die Mexican wave wat twaalf keer verby gekom het. Nie die pragtige drieë nie…maar eerder die golf. Hy het hom geweldig goed van sy taak gekwyt. Hy moes so nou en dan vir my iets vertaal maar dis hoekom hy, volgens my, moes saam kom. Hy het gekies om volgende jaar Latyns bo-op sy Frans, Engels en Duits te neem by die skool. Latyns nogals! In my jare was dit die slimmes wat Duits en Rek gevat het. Ek het Rek en Bedryfsekonomie geneem en dan het ons so nou en dan ‘n klas in Noord-Sotho gehad wat eintlik ‘n mors van tyd was. Meneer Oelofse het ons iets probeer leer. Ek kan darem tel tot vyf in Noord Sotho. Wat ‘n skande! Die jonge Attie het nie geweet wat ek nou weet nie. So, go for it Jos! Carpe diem. Veni, vidi, veci.          

Groetnis/ Salutations

Die Frustrerende Venters

Comments

Popular Posts