Die Vokale Venters
72. Neusie verby
Franse nasale klinkers het 'n lang en ingewikkelde geskiedenis, wat terugdateer na die einde van die eerste millennium, toe koartikulatoriese nasalisering die eerste keer in spraak plaasgevind het, en het voortaan deur die volgende eeue na alle vokale in nasale konteks versprei. Selfs al is Frans onteenseglik gedurende die Middeleeue genasaliseer, is dié verskynsel deur kontemporêre taalkundiges oor die hoof gesien tot 1694, toe Louis de Courcillon en Abbe de Dangeau, die eerste melding gemaak het van die nasale byvoeglike naamwoord om 'n nuwe reeks van vyf Franse vokale te kwalifiseer, wat hy voyelles sourdes (dowwe vokale) gedoop het. Sjoe...bietjie geskiedenis.
'n Franse nasale klank is 'n spesifieke manier om Franse vokale uit te spreek. Daar is vyf vokale wat in Frans met “n” gespel word, en wat in 'n klas van hul eie is. Hierdie dowwe vokale word ook nasale vokale noem... jy sal voel dat wanneer jy dit uitspreek, daar 'n effense beweging in jou neus is. Dit is egter duidelik dat die “n” glad nie deelneem aan hul uitspraak nie. Die verskillende Franse neusklanke word in hierdie prettige voorbeeld vertoon: un bon vin blanc ('n goeie witwyn). Jy moet maar jou neus toedruk as jy dit reg wil sê.
Die stuifmeelseisoen is besig om vlam te vat en dan gebeur hierdie nasale klanke sommer outomaties. Lisa en Jos klink pure fransman soos die hooikoors hul pak. Neusies is rou. Die dowwe klinkers en stuifmeel eis hul tol. Oral kruip ‘n tissue in ‘n mou weg of staan daar ‘n botteltjie neussproei. Stuifmeel is aan die begin van April van krag, danksy somerweer, veral berk en dennestuifmeel, wat verantwoordelik sal wees vir 'n hoë risiko van allergie oor die driekwart van die land. Oral lê daar daar ‘n laag geel swaelagtige stof. Dit klou aan als.
Lisa het haar TEFL sertifikaatkursus met vlieënde vaandels geslaag en boonop met baie positiewe terugvoer. Sy kan nou nie net Engels praat nie….sy kan ook nou ‘n Engelse klas voorberei en aanbied vir nie-engelssprekende kinders of volwassenes. Dit was nog ‘n geleentheid wat ons raakgesien het hier in Frankryk. Die Franse kinders kan nie Engels praat nie en dan moet al die volwassenes dit op hul ou-dag probeer aanleer…en nie eers al die volwassenes vind dit nodig nie. So…hopelik kan Lisa haar CV effe aanpas sodat sy as onderwyseres of selfs net assistant by ‘n skool kan inkom om hierdie fransebroodjies ‘n Engelse-ding of drie te kan leer.
Vandag was die uitmergelende 260 kilometer Parys-Robaix fietswedren. Die wedren dateer uit 1896 en het sedertdien 121 keer plaasgevind. Compiègne – sowat 80 km buite Parys – het die wedren sedert 1977 aangebied, terwyl Parys gasheer gespeel het van die begin tot 1967. Belge het die "Cobbled-Classic" oorheers, met 58 wenners oor die jare. Hierdie wedren staan ook bekend as die “Hel van die Noorde”. Die impak van die padoppervlakte op die fietse en ryers is enorm. Daar is ongeveer 55 beenbrekende kilometers van “cobbles” en dié begin eers vanaf die 95km merk. Die wenner wen ‘n klip... en ‘n plaatjie met sy of haar naam op, opgesit in die badkamers sodat die ander ryers, soos hulle die modder van hul gesigte afwas, eer kan betoon aan vorige wenners en weer begin droom vir volgende jaar. Dis by hierdie wedren waar die term “klippe kou” eintlik tot sy reg kom.
Al pla die stuifmeel en al is die weer nog wisselvallig, begin lente om elke hoek en draai roep: “Kom bietjie uit. Kom speel met my!” Ons fietse se kettings kraak sommer vanself. Hulle weet die tyd het aangebreek om uit hul hibernasie te ontwaak. Ek moet net die balans kry tussen spring-cleaning en sonskyn-pret.
Groetnis/ Salutations
Die Vokale Venters
Comments
Post a Comment