Die Vurige Venters

75. Been voor paaltjie

Terug van my drie weke toer in Oos en Suid-Afrika, kan jul net dink dat my aanvangklike bagasie effe skraps sou wees vir die terugvlug. Met al die jelly tots, jelly beans, aromat, nandos chillisous, voltaren en geskenkies, moes ek 'n ekstra sak leen. Soos die vliegtuig oor Bordeaux draai, herken ek die wêreld. Ek ervaar 'n nuwe gevoel...asof ek opgewonde raak om huistoe te kom. So bly was ek nog nie gewees om Frans te hoor nie. Ek ken hierdie plek...dis nie net nog 'n stop nie. Ons bly nou hier en my twee liefies was die rede vir my opgewondenheid. Soos die lot dit wou hê, daag die tas met al die lekkernye nie op nie. Die oorstaan in Parys was te kort en oom tassie het eers met die volgende vlug in Bordeaux gearriveer. Tussen deur die taskry en my vroutjie vry, merk ek iets op. 

Hier is ‘n vurige ding wat kop wys. In Parys. 
Iets heeltemal anders as ‘n bike race. 
Tennisballe, krieketballe, gewigstootballe, as jy wil. Hier in Parys.

Voor die Rugbywêreldbeker laasjaar, het die Franse gedog hulle kan Leeuloop, maar nee! Die Bokke het hul brul en hul hanepoot in die kwarteind afgetrap en nou het hulle fakkel. Net mooi fakkel. Die fakkel is baie verleidelik, so laat ek hom stap vir stap verduidelik.
Benewens die gereelde Franse Ope (Roland-Garros), die Tour de France en die Vendée Globe, het Frankryk onlangs verskeie groot ander internasionale sportbyeenkomste aangebied, soos die Wêreldhandbalkampioenskap vir mans in 2017, UEFA Euro 2016, die Ryder Beker-gholfkompetisie in 2018, die 2019 FIFA-vrouewêreldbeker, die baanfietsrywêreldkampioenskappe in 2021, die Alpynse wêreldskikampioenskappe (Februarie 2023), die Wêreldparaatletiekkampioenskappe (Julie 2023) en die Rugbywêreldbeker (Oktober 2023). Nou ook die Olimpiese en Paralimpiese Spele in Parys 2024 gedurende die komende somer. Die Olimpiesefakkel (Flamme olympique) doen sy rondtes deur verskeie stede om die Franse weer opgewonde te kry vir nog ‘n wêreldwye sportbyeenkoms. Daai fakkel het juis hierdie week in Bordeaux kom draai. Die fakkel het verskeie hande verwissel en dis nie net een ou wat fakkelwerk gedoen het nie. 

Frankryk sal atlete hê in meeste van die items en moontlik 'n goeie klompie medaljes inoes, maar daar is een item wat 'n medalje teen hul naam het wat julle nooit sou raai nie . 'n Item waar Suid-Afrika baie potensiaal wys maar net nooit suksesvol oor die streep kon kom nie. Het julle geweet dat Frankryk al ‘n Olimpiesemedalje in krieket verwerf het. KRIEKET?!! Netso...'n Krieketwedstryd is gespeel as deel van die Olimpiese Somerspele van 1900, wat by die Vélodrome de Vincennes plaasgevind het, tussen spanne wat Groot-Brittanje en Frankryk verteenwoordig het. Groot-Brittanje het die wedstryd met 158 lopies gewen. Die Franse span het tien Britse spelers ingesluit, waarvan twee in Frankryk gebore was, en twee Fransmanne en is as 'n gemengde span beskou, alhoewel dit tans deur die IOK as verteenwoordigend Frankryk gelys word. Ek wonder of hulle nog ‘n krieketspan het. As daar een krieketkolf in hierdie land versteek is, is daai kolf in my kas.

Ek het ook bietjie krieket gespeel op my dae. Let op die “bietjie” en “my dae”. Ek was eintlik ‘n benchwarmer (nie eers twaalfde-man nie) en het instruksies van die kant af geskree, soos: “Reguit bat!” of “Net outside-off” of “Voorvoet…watch die yorker!” Ek het intelligente goed geskree. Goed wat sin maak. Totdat ek die dag moes opgaan. Ons het ‘n span bymekaar gemaak wat in ‘n Sondag-twintig-20-liga gespeel het. My vaardighede was nie so prominent op die veld nie…eerder van die veld af. Ek was die Voorsitter, die Kredit en Finansiële bestuurder, Bemarkingsbestuurder, Menslikehulpbronne en so nou en dan, die  Taakmag se onderhandellaar. Soos Harvey Spector. Op die veld, het ek laaste gebat en laaste geboul. Ek was ‘n slow bouler. So stadig dat die wedstryd altyd vyftien minute langer aangehou het as ek die dag geboul het. Die kolwer kon die Sarie Marais  heeltemal klaar sing teen die tyd wat my bal by hom uitgekom het. Dit was 'n kuns. Ons veldwerkers het almal op die grens gestaan as ek geboul het. Nie omdat ons die kolwers daar uitgevang het nie…eerder dat hulle nie so ver hoef te geloop het om die bal te gaan soek nie. Met die kolf was dit kop op, oë toe en moker. Dit het net nou en dan gewerk. Later het ek agtergekom dat ek minder lopies afstaan op paaltjiewagter as bouler. 
Ons span het bestaan uit ‘n paar kern spelers en dan so afentoe moes ons leen-spelers kry. Leen-spelers is soos medical-jokers in vandag se rugbyterme. Hulle het nie vaste kontrakte nie maar hulle het goeie vaardighede om die gaping in die span te vul. In ons geval moes hulle ook oor die vermoë beskik om hul wedstrydgeld te kon betaal. Dwayne was ‘n goeie leen-speler maar sy redes vir sy gebrek aan fondse was uniek...en dan knak hy nog 'n biertjie. Deef was ons opener. Hy lyk soos Shaun Pollock. Hy het geglo jy loop net vir petrol…anders bly jy staan todat die umpire jou uitroep. Hy het ‘n blinde oog, so sy vangskote was gewoonlik 50/50. Hy kon darem ‘n grap vang. Sy arm was die sterkste in die span en kon die bal teruggooi tot by die paaltjies sonder dat dit een keer hop. Hy was ons sterkolwer en spog vandag met meer as honderd 50-talle in hierdie liga. Antz was die muur. Sy kolf was so wyd soos die Here se genade. Baie selde het daai bal sy paaltjies getref en as dit by sy bowling kom…het hy ‘n bedrieglike stadige bal gehad. Een wat verkeerd om uit die hand kom. Wiets het 'n vleiskuif gehad en altyd sonbrille gedra. Hy was ons Halley se komeet. Hy het selde afgekom maar die dag as dit gebeur, was dit iets uiters spesiaal om te aanskou. Iets waaroor die koerante sou skryf. Lambo was ons nommer vier. Hy het teen 200 km/h gebat en het tjoef tjaf ‘n paar lopies op die bord gehad. Jakkals was ons finisher. Met sy diep frons, stap hy op die veld…erg gefokus en reg vir ‘n klomp dik houe. Jy weet nooit of daai frons geneties was of net bedonderdheid nie. Hy was gewoonlik die ou wat goed op die veld geskree het. Die tjirper. Martin was ons gekrokte maar mees lojale all-rounder. Hy kon oral bat en as gevolg van sy ysterknieë, moes hy liewer in die glippe veldwerk doen. Soos Kallis. Brian was ons speed bouler. Min gesê. Sy boulwerk het die praatwerk gedoen. Halftyd steek hy ‘n sigaret aan. Hy trek sy lippe dun en dan hang die Camel filter net net by sy bek uit. Sy oë trek sulke skrefies soos hy rook. Net soos Clint Eastwood sou rook. Dirk het weer vroeg uitgetree. Ek dink hy kon die cost-benefit analysis baie vroeër bereken as ons. Hy het gewoonlik die bal so hard op die blad neergesit dat hulle teen halftyd die swaar-roller moes gaan haal. Mielas het die meeste gelyk soos ‘n krieketspeler. Propperse speler. Vreeslik tegnies en het die beste brands gedra. Hy kon vir verskeie beurte kolf en nooit van die merk af kom nie. Hy het geweet watter bal om te los, watter een om te kap en watter een om aspris mis te klap. 

So, ons was nie fantasities nie. Ons was average. 'n Paar gewone ouens ...'n klomp pêlle wat 'n span vol gemaak het. Die eintlike rede hoekom ons gespeel het was omdat die hele gesin langs die veld kon sit en 'n sondagmiddaguitstappie geniet. Die vrouens het geklets soos ‘n spul henne wat eiers te lê het en wanneer ons klaar was, was die eerste vraag gewoonlik: “Wie het gewen?” Heel onbetrokke maar tog meelewend. Die kinders het rond gehol van al die sweets en dan aan die slaap geraak in die kar terug huistoe. Dit was ‘n lekker tradisie. Nou oordonner ons skete ons en dis tyd dat ons kyk hoe ons seuns in ons nalatenskap speel. Dis weer ons beurt om intelligente goed van die kant af skree. Goed soos: “Is jy blind? Het jy pap in jou hande? Jy mis ‘n goeie game, ump!” “Hey, derde-man…RAAK BETROKKE!”

Oorspronklik het vier spanne ingeskryf - België, Frankryk, Groot-Brittanje en Nederland - en hulle was geskeduleer om aan 'n uitkloptoernooi deel te neem in die 1900 Olimpiesespele. België en Nederland het egter albei voor die loting onttrek aangesien Nederland nie 'n volledige krieketspan kon inspan nie, terwyl België nie hul krieketspan Parys toe gestuur het nie. Die halfeindronde is geskrap, en Groot-Brittanje het Frankryk in 'n enkele wedstryd gespeel. Ons sou dalk nie ‘n silwermedalje by daardie Olimpiesespele gewen het nie, maar defnitief die brons.  

Groetnis/ Salutations

Die Vurige Venters

Comments

Popular Posts