Die Volts-skort Venters

 
77. Krisisbestuur

Ons het Sondagoggend ‘n ligte krisis beleef. Jos het by die kamer ingestorm en, met 'n skok op sy gesig, gesê: "Daar is fout. Die TV het die een oomblik nog gewerk en die volgende oomblik is daar niks!” Julle sal dit nie glo nie…Bordeaux se krag was af. Facebook was vol boodskappe van mense wat dieselfde vrae vra. Ons het dit glad nie verwag nie. Ons is geheel en al nie voorbereid vir so krisis nie. Ons sal opsies moet oorweeg…ons het niks in plek nie en dis net daar toe ek en Lisa begin planne maak. In ons koppe maak ons 'n lysie van sleutelstrukture wat ons moet ondersoek. Ons ken mos...ons het ervaring. Tien minute later skop die krag weer aan. Tjoepstil…okei…dit was nie so erg nie. Die enigste gevolgtrekking wat ons kon maak in die gegewe tyd was dat ons sal moet belê in ‘n gasbraaier. ‘n Gasbraaier sal ons aan die lewe kan hou gedurende die volgende kragonderbreking. ‘n Gasbraaier en vleis om te braai. 

Jos se laaste paar dae by sy skool klink soos wat my ou Honda CB 750K motofiets geklink het. Die een waarmee ek Tuks toe gery het elke dag. Sy onnies is besig met die 3e graad studente wat eksamens moet skryf sodat hul kan skuif na die geskikte Lycée (Hoërskool) toe. My CB 750K het nes hulle geklink. Hulle begin selde 'n klas in die oggende en indien hulle wel in die klas is, vuur hulle nie heeltyd op al vier silinders nie. Jos is tegnies 'n Tukkies-student en  gaan dus net in skool toe wanneer daar klas is. Bizarre!
Net soos Jos se onnies, nader ons die Europese somervakansie en so kom al die belangrike lokale sportgebeure ook op ‘n einde of dit skakel om na die internasionale weergawes. Ek het reeds al genoem van die Olimpiesespele en Tour de France wat om die draai is, maar daar is ‘n klomp rugbytoere wat wag waar die spanne van die noorde gaan kragte meet met dié van die suide. Die Iere is oppad om die Bokke te gaan wys dat hulle eintlik die beste span ter wêreld is, die Engelse gaan die All-Blacks probeer boelie, die Walliesers gaan met die Wallabees meeding oor wie eintlik die houtpaplepel moet vashou, en dan gaan die Franse-kapokhane die krapperige Pumas aanvat. Natuurlik is die Bokke aan die toppunt van bespreking, veral voor die Wallis wedstryd laas saterdag. Baie rugbyliefhebbers het hul monde uitgespoel oor die Bokke se verskeie taktieke en verrassingspakkette gedurende die Wêreldbeker laasjaar, maar ek kon sien dat die skare tog ‘n waardering, ‘n bewondering en respek het vir die gedissiplineerde werkswyse en benadering wat Rassie se span het…behalwe die Franse natuurlik. Kwagga se hande was mos op die grond en Cheslin het te vroeg weggespring toe hy daai skop afgestorm het. 
Ongelukkig het die Bulle teen Franco Smith se Skotte in die URC finaal vasgeval maar volgende Vrydag speel ons eie Bordeaux se lokale rugbyspan (UBB), in hul eerste Top14 finaal teen die reuse van Toulouse. Ons hou duime vas. Spelers van hierdie spanne sal ook in die verskeie oefenkampe ingetrek word. So gepraat van oefekamp, ek kan seker bietjie terugvoer gee oor hoe dit met ons Fransvlytigheid gaan. As Rassie ons sou nooi na sy oefenkamp gebasseer op ons Franse vermoëens (Bakkies-pratery), sou dit so gegaan het : Jos sou die rol van Kwagga Smith ingeneem het. Hy ken die lynstaantekens maar sy rol is nie om vir Bakkies op te tel nie, hy is daar om te “fetch” of as Bakkies so ‘n “flick” in die lig gee, dan is hy die “receiver” en maak dan die meters op. Hy moet blitssekonde besluite kan maak. Lisa sal die rol van "Fransina" Malherbe inneem. Sy ken die lynstaantekens, sy weet wanneer om te lig en hoe hoog en dan weet sy hoe om te skrum. Sy gaan nie pale toe skop, side-step of dummies pass nie…sy het nie daai skills nie. Sy doen die basics reg en daarom is sy in die span. Ek is soos Andre’ Hugo Venter, die seun van die legendariese Andre Venter. Rassie weet van my. Ek is al twee jaar op sy radar en wys baie potensiaal. Ek leer nog die drills. Ek was nog nie in die begin-15tal nie…ek was nog nie eers in 'n Boktrui nie, maar die dag as dit gaan gebeur…kan ek ook nie belowe dit gaan skouspelagtig wees nie. Ek is darem in die groep of op die kortlys.

Groetnis/ Salutations

Die Volts-skort Venters 

Comments

Popular Posts