Die Van Gogh Venters

81. Nutsman

Ek het gevind dat daar slegs twee kritiese en beslissende keuses is wat jy moet maak voor die somervakansieseisoen afskop. Hierdie keuses het wel een ramifikasie in gemeen en dit is dat dit jou gatsak gaan seermaak. Gee nie om hoe mooi spreadsheet jy optrek of hoe oulik jou begroting klop nie, jy gaan oorspandeer… maklik tussen 30 en 300%. Dis ‘n gegewe. Na hierdie periode van onverwagse spekulatiewe uitgawes, GAAN jy in die rooi wees en jy gaan na die tyd planne moet maak om weer finansieel te herstel. Die twee keuses wat ek moes maak was….gaan ek op vakansie na die see, of gaan ek bietjie DIY rondom die huis doen. Albei gaan my na my asem laat snak…die vraag is: watter een se beurt is dit hierdie jaar. Ons buurmanne se huise is of tjoepstil of jy hoor die galm van die skuurmasjienorkes en Bordeaux se hammerkoor. Hierdie koor is wêreldwydbekend en is meestal ‘n mannekoor. Die weer is gunstig…die stemming is perfek...dis droog en reën weinig. Ideaal vir enige buitemuurse aktiwiteit. Een van die dae bekruip die herfs ons en hy bring ‘n nattigheid saam wat alle projekte kan belemmer. 
Op skool en selfs Universiteit het my pa gesorg dat die vakansiegees van niksdoen nie te vinnig posvat by ons kinders nie. Hy het sommer vinnig ‘n lys van take (nie takies nie) opgestel, na gelang van ons ouderdom, wat ons goed besig sal hou gedurende hierdie tyd van rus. Die wasgoedpale afskuur, hopies bakstene pak sodat daar plaveisel gelê kan word as pa terugkom van die werk af, of tralies skuur en verf of, motorfietse was en poleer, die kar diens of selfs nuwe diefwering en veiligheidshekke bou. Die moeilikheidsgraad en die vaardigheid wat vereis was, het ook met die jare toegeneem. Om hierdie take te kon verrig moes jy gereedskap hê. Dis hier waar ‘n beleggingsteorie toegepas moet word wat nie altyd sin maak nie maar wat nodig is om te neem. Of jy belê in gereedskap en vaardighede om die job te kan doen of jy koop die vaardighede en diens om die job te kan doen. Dis ‘n baie belangrike besluit wat jy gaan moet neem want beide het ‘n prys. Hier in Frankryk is dit meer voordelig om in die greedskap en vaardighede te belê as om die diens te koop…natuurlik bygesê: kan jy die job doen en hoeveel geduld het jy om te leer om die job te doen? Die diensverskaffers hier is taamlik duur en daar gaan wel sekere projekte wees waar ek gaan moet hoes maar ek gaan defnitief ‘n klomp self kan doen. As ek na my lys van projekte kyk, gaan ek my vaardighede moet opskerp (uitbrei) en my gereedskap-arsenaal moet aanvul. Ek hoop die begroting hou by.   
Daarom was hierdie vakansie, Jos se leerskool. Hy is aangestel as die projekbestuurder vir ‘n klein verfprojek hier rondom die huis. Ek is sy werknemer maar ook senior konsultant. Ek moet hom kort-kort daaraan herhinner dat hy die projek bestuur en nie ek nie. Ek moet myself ook herhinner. Hierdie vakansieskool gaan hom nie net die nodige verfvaardighede leer nie, dit gaan hom ook dikvellig maak. Grof en rof… emosioneel taai. Vra my. Vra enige seun wie se pa baie DIY gedoen het. Niemand kan my gevoelens meer seer maak nie...ek het gereeld die verkeerde gereedskap vir my pa aangedra. Daar was so een oer-oue oranje skroewedraaier in my pa se kas. Hierdie skroewedraaier was volgens my broer die antwoord vir alle gereedskap versoeke. Dit was nie noodwendig die antwoord wat my pa wou gehad het nie. Nog ‘n reeling wat ek wel probeer implementeer tydens hierdie eerste vakansieskool is: eers bietjie werk en dan bietjie speel. Speel is belangrik gedurende die vakansie…voel ek, maar so ook die kalm bekendstelling aan die konsep van vakansieskool. Dis hier om te bly. Soos ons vorder met die projek vind ons beter maniere om dit te doen. Dit verg verdere aankope buite die aanvanklike begroting totdat die Karcher Hoëdrukspuitmasjien die gees gee. Dit is van daai onvoorsiene uitgawes waarvan ek gepraat het. Die 300%. Daar waar die skaal wil beur ander kant toe. Diensverskaffer se kant toe. Hoestroop help nie vir so tipe hoes nie…net jou beursie kan jou red.
Ons het al die toeriste besienswaardighede gaan besoek saam met Lindie en Rachel. Daar is ook net soveel en ons kan wys en ons wys hulle almal vir dié wat kom kuier. Die hoogtepunt was nog ‘n verwer, Vincent van Gogh’s se skildery voorstelling by Les Bassins des Lumières. Les Bassins des Lumières is 'n interaktiewe digitale kunsinstallasie wat by die Bordeaux-duikbootbasis geleë is. Lisa begin ook môre werk. Sy is nie meer ‘n “Lady of Leisure” nie. Die oomblik het aangebreek. Sy gaan haar kleertjies uitsit vanaand en haar nuwe oggendroetine maal deur haar kop. Dis soos haar eerste dag graad een toe maar nou gaan sy vir graad eendjies Engels leer. Te fraai.

Groetnis/ Salutations

Die Van Gogh Venters

Comments

Popular Posts