Die Varkerige Venters

79. Wysneus

Frankryk is opgedeel in departemente of soos julle dit sal ken…provinsies. 96 van hulle. Ons bly in nommer 33 of ook genoem: Gironde. Dordogne is 'n departement net langs ons en is bekend vir hul Engelse nedersettings. Jare terug toe 'n ene dame, Eleanor, die hertogin van Aquitanië en die graafin van Poitiers, met Henry van Anjou getrou het (nadat haar huwelik met die Franse koning Louis VII, nietig verklaar is omdat sy nie ‘n seun vir hom kon baar nie), het sy beheer gehad oor 'n streek wat strek van die Dordogne tot die Pireneë. Henry van Anjou het Henry II, koning van Engeland geword, en die Dordogne-streek het onder Engelse beheer geval. Henry II het die titel "Koning van Engeland, Hertog van Normandië en Aquitanië, graaf van Anjou" gekry. Aangesien Eleanor nog steeds haar netwerk in Aquitanië gehad het, het die poorte in Bordeaux eweskielik oopgegaan vir die Engelse en hulle het hulself daar kom vestig...totdat die Franse die dreigende moeilikheid gesien het, en halt geroep het. Vir sommige het Dordogne die bynaam "Dordogneshire" verdien vir sy florerende Britse gemeenskap. Geken deur 'n ontspanne leefstyl, warm klimaat en laer lewenskoste, is die Britse gemeenskap veral algemeen in die Eymet omgewing. Ek en Lisa het nog een van dié dorpies gaan opsoek. In Aubeterre-sur-Dronne het ons meer Engels gehoor as Frans. Oral regterhand-karre met UK plakkers, en 'n spul rooinekke wat die somerson in die Suide kom opsoek. Dis 'n vreeslike fraaie ou dorpie met vele pottebakkers en kunssinniges. 
Jos het sy tweewekelange staaldraadkamp juis in Dordogne deurgebring. Hy het baie rowwer geruik toe ons hom Sondag gaan oplaai het, as wat ons gedink het hy gaan ruik. Varkie-aande was aan die orde van die dag. Elke tweede dag gestort…bosstort. Hoe skoon kan hy nou werklik kom? Ek het gelukkig ‘n koppie chloor in die swembad gegooi die vorige aand…dit sou seker die aanvangklike skraap kon bied voor hy ordentelik kon was. Sterrelig, geen skermtyd, kayak en randonnée (hike), master chef, boomklim, swaai en swem, tent opslaan, laat gaan slaap en vroeg opstaan, goggas, mercurochrome. Twee weke was lank…selfs vir Jos. Ek dink tog hy het iets wys geword. Hy moes leer dat dit moeite is om ‘n tent skoon te hou as die ander tentmaats nie by die reëls hou nie. Skoene buite en kouse sonder blare…dan kan jy in. Klerewas is moeite maar tog nodig. Hy het gevind dat jy wel twee keer (of meer) met ‘n broek of hemp kan loop as dit nie vuil is nie. Ons sien uit om nog ‘n paar van sy ontdekkinge...wyshede, te hoor hierdie vakansie.  
Lisa begin heel moontlik in September skoolgee by ‘n tweetalige primêreskooltjie in Bordeaux. Sy is vreeslik opgewonde. Lisa kan nou “ingeplug” word in die Franse sisteme. Gelukkig kan sy sommer die bus vang hier naby ons huis en dan ry tot by die wynmuseum. Van daar af is dit net 10 minute se stap. Nicolas, ons Franse vriend, het gevra wat sy gaan doen as die transport-ouens die dag staak? Goeie vraag. Wat dan? Wat ry sy dan? Daar is nie parkering nie…motors kom nie daar waar sy gaan werk nie. Dadelik skop my praktiese brein in. Wat van ‘n bromponie, of ‘n nuwe elektriese fiets of scooter. Wat as sy net haar groot motorfietslisensietoets aflê, dan kan sy ‘n groot motorfiets ook oorweeg. Soveel moontlikhede…Toe ek my weer kon kry, soek ek vir my ‘n nuwe motorfiets. ‘n Groter een…die 1200 GS BMW. Ek weet selfs hoeveel ek vir my ou een kan kry…gaan net ‘n paar euros moet inbetaal. Eintlik ‘n hele paar. Ek sal by Lisa se begroting moet leen…sy gaan mos nou werk en ook ‘n salaris verdien.
My eerste werk was as Tegniese Adviseur vir Meadow Voere in Randfontein. Ek moes in Potchefstroom gaan bly en ek moes die hoenderboere in die Noordwildeweste gaan besoek het. Daarvoor moes ek ‘n voertuig gehad het. My varsity-vriend en mede Meadow kollega, Eugene, het ‘n 2,7 Toyota Hilux gery. Ai, dit was die droom. Ek gaan ook so een koop. Pas uit varsity, met my Meadow aanstellingsbrief en R340 in my Saambou bankrekening, is ek Brooklyn Toyota toe. Nou gaan ek ‘n splinternuwe bakkie koop…uit die boks uit. Langstorie kort…hulle wou gehad het dat my pa moes borg teken vir hierdie grote bakkie. Hy het my mooi laat verstaan...hy is net hier vir die rondkyk en dat ek op my eie is. Ek wou die 2,7 Hilux enkelkajuit hê en hulle wou net die 1800 kortgat basiese model vir my aanbied. Wat ‘n skande ! ‘n Universiteitsgekwalifiseerde seun (man) kan mos nie met ‘n splinternuwe skedonk op ‘n plaas aankom nie…wat gaan die mense dink. Dis sulke lesse wat ek vroeg-vroeg al vir myself moes uitpluis. Ons het op die oueinde geskik op die 2,0 liter langas enkelkajuit met “autumn red colour coated bumpers” maar geen radio of lugreeling nie. Iets wat my ook na ‘n langdag se ry, laat ruik het of ek ‘n paar varkie-aande agter die blad het. Die Noordwesteson kon warm word en ek het ook een bruin arm en een wit arm gehad. Een arm wat altyd op die deur gerus het…venster oop. Ek het by Lisa in Pretoria gaan kuier met hierdie rooi bakkie…baie van die kilometers was agter haar aan. Ek het haar (die bakkie met die rooilippe) vyf jaar later verkoop met 300 000km op die klok. Een van die grootste foute van my lewe. Nog ‘n les was ek moes leer.

Lisa se eerste kar was weer ‘n 1984 Golfie…so gele. Hierdie vla-wa het net vier ratte gehad en 'n reverse. Ek onthou die een keer toe Lisa saam met my na ‘n aksiefliek gaan kyk het by die Kolonade. Dit was ook net een keer…al die flieks daarna was meisieflieks. Daai flieks waar die meisie onder jou arm in wikkel want dis so pragtig of jou in die ribbes pomp. Daai romantiese flieks wat jou as boyfriend in ‘n baie moeilike posisie plaas want nou dink al die meisies dat dit die standaard van romanse moet wees en al wat ek in my kop gehad het was ‘n Strawberry-sunday by McDonalds. Terug by die aksiefliek…dit was Fast and the Furious..die tweede een. Natuurlik het ek terugbestuur na haar huis toe. By elke stop wou ek wegspin…en double clutch. Na die derde stopstraat kyk Lisa na my met 'n vreeslike frons aan. “Jy sal nie verstaan nie liefie…jy is nie veronderstel om te verstaan nie. Jy moet net bewonder”. Later, net toe ons getroud is, het ek besef: “Ons gaan vir vla-wa moet opgradeer.” Ek is toe terug Brooklyn Toyota toe en bestel die entry-level Toyota Corolla wat uitkom sonder lugreeling of radio…maar omdat Lisa, Lisa is…het ek lugreeling laat bysit. Ek het daai kar nog met ‘n tjek gekoop. Ons het geleer uit ons verlede uit. “Jy verkoop nie ‘n Corolla nie…jy ry hom.” Ongelukkig het sekere mense in die Suid-Afrikaanse bevolking ‘n ander leuse gehad: “Jy koop nie ‘n Corolla nie…jy steel hom.” 

Ons sal seker vir Lisa ‘n elektriese fiets as back-up kry. ‘n Help-my-trap…vir die bult terug huistoe…slegs wanneer die bus nie loop nie. Wat heel moontlik net tydens die staakseisoen gaan wees. Ek wonder tog of haar huidige fiets nie die ding sal kan doen nie…dis mos nie elke dag nie. Ek het juis hierdie week ‘n mooi BMW motorfiets gewaar hier naby ons. Ek dink ek moet tog maar gaan kyk…wie weet…dit kan dalk ‘n winskoop wees.

Groetnis/ Salutations

Die Varkerige Venters

Comments

Popular Posts