Die Veradellike Venters

80. Damduikers

Ons het weer by die Freekes van Potsdam kom inloer. Hulle is mos nou ‘n baba ryker en Lisa wou met all mag en mening vir haar vriendin kom kuier sodat sy kan help doekruil…of net, goedmoediglik, babageselsies uitruil. Volgens my is Potsdam die Waterkloof of Stellenbosch van Duitsland. Gesofistikeerde en skynvrome hooggeplaastes bly hier. Dis groen en nogmals groen. Potsdam lê aan die rivier Havel, 'n sytak van die Elbe, stroomaf van Berlyn, en lê ingebed in 'n landskap met baie mere, waarvan ongeveer 20 binne Potsdam se stadsgrense geleë is. Dit lê sowat 25 kilometer suidwes van Berlyn se middestad. Die huise teen die Heiliger See en Tiefer See (om net ‘n paar van hierdie mere te noem) en langs hierdie rivier, getuig van ou geld. Dis ons eerste keer tydens ‘n somer hier en dit is pragtig. Het ek al genoem dat dit baie groen is…selfs die plaaslike polititieke party is van die groenes…en dit werk eintlik heel goed…as jy van groen hou. Hier is soveel parke, kastele, monumente en museums, dat jy sekerlik in ‘n jaar se tyd nie al die wandelpaadjies sal kan klaar stap nie. 
So het ons ook een ooggend Jos se nuwe navigasievaardighede op proef gestel. Ek en Lisa het gaan draf en Jos moes ons per fiets begelei op ‘n roete al langs die Heiliger See, toe ons op ‘n spul damduikers afkom. Ek mag verkeerd wees, maar my definisie van ‘n Damduiker was gewoonlik die mense wat oor ‘n naweek ‘n groot klomp drank koop en dit langs die Vaaldam gaan uitsuip het. Soos hul die aand geniet, gooi hulle die ou bierbottels dan in die dam. Die volgende oggend pak die dors hul en dan duik hulle al die leë bierbottels weer uit en ruil dit in vir ‘n deposito om net weer drank te kan koop. Hierdie  preutse Potsdamduikers was nie daardie tipe duikers nie. Hulle was die minder luidrugtige tipe wat die mid-oggend son kom opsoek met niks meer as ‘n bokbaard en ‘n sonbril aan. Wat ‘n ontnugtering. Dis blykbaar nie ‘n snaakse gebruik hier in die ooste nie…net vir ons. 

Nudisme was veral gewild in Oos-Duitsland, of Duitse Demokratiese Republiek (DDR) soos dit bekend gestaan het. Dit is in die geheim beskou as 'n vorm van ontsnapping uit die uniforms, optogte en vereenselwiging van die kommunistiese staat. Oos-Duitsers was vry om nudisme te beoefen en het dit waar moontlik gedoen: by mere, seestrande en groot FKK-kampeerterreine. Daar was natuurlik ook 'n amptelike sosialistiese instelling met 'n lang, oninspirerende naam. Die "Freikoerperkulturbewegung" of “Free Body Movement” het 60 000 lede gehad. Duitsland se passie vir die naakte waarheid vind sy oorsprong in die laat-19de-eeuse gesondheidspraktyke, toe ‘n bietjie son op die naakte lyf gesien is as deel van 'n roete na fiksheid en sonbad, 'n moontlike kuur vir TB en rumatiek. Die gryse en poedelnakende damduikers van Potsdam dink nog steeds so. Lisa het vir Jos gesê om eerder net sy oë op die pad te hou…daar is niks om te sien nie…letterlik niks. 
Soos ons op die vliegtuig van Amsterdam na Berlyn geklim het, het ons opgemerk dat hierdie vlug vol “karakters” is. Mense met ringe en dinge, gekleurde hare en ‘n mode wat frons. Hierdie spul moet oppad wees na ‘n konsert of ‘n ding…’n dam waar Potsdam se eende nie uithang nie. Dit was die rowwe Wacken konsert in Berlyn. Ons het na net een week in Potsdam ons eerder kom skaar by die Potsdamer Schlössersnacht (Potsdam Kasteelaand). ‘n Aand by die feestelik opgemaakte Sanssouci Park met 'n gevarieerde program van musiek, voorlesings, verskeidenheid vertonings, teater, dans, begeleide toere en lig- en klankinstallasies. Die Potsdamer Schlössernacht, is ‘n aand (eintlik twee) waar gaste uitgenooi word om deur een van die mooiste historiese terreine te stap en 'n verskeidenheid optredes te ervaar. Vreeslik gekultiveerd, tooi sommige mense hul in kostuums van koningklikes of aristokrate…als om meer betekenis tot die aand te bring. Die deurwinterde, die fynbeskaafdes, die delikate adellikes van Duitsland, hang hier uit. Hulle en toevallig die rondloper plebs van Bordeaux ook.

My sus (Lindie) en haar dogter (Rachel) van Bristenburg Australië, kom vir twee weke by ons kuier. Daar was so baie groen en goud ondersteuners in die stadion vir die toets teen die Aussies gewees, dit moes seker soos ‘n tuiswedstryd vir die Bokke gevoel het. Dit sal my eerste keer in vyf jaar wees dat ons vir Lindie weer sien. Ons het Rachel Desember 2017 laas gesien…die dag toe hulle Brisbane toegetrek het. Julle kan net dink wat in ons harte aangaan. 
 
Groetnis/ Salutations

Die Veradellike Venters

Comments

Popular Posts