Die Fat-soenlike Venters

82. Belt intrek 

Vakansietye is altyd gevul met heerlike kos en gesellige tye saam met geliefdes. Hierdie somervakansie was geen uitsondering nie.

Hulle sê jy is wat jy drie weke terug geëet het. Hulle sê ook “Beter laat as nooit.” - Dit beteken dat dit beter is om iets laat te doen as om dit glad nie te doen nie. So ook “Spyt kom altyd te laat.” - Dit beklemtoon dat spyt dikwels kom nadat die geleentheid om iets te vermy verby is. “Moenie huil oor gemorste melk nie.” - Dit beteken dat jy nie moet treur oor iets wat reeds gebeur het en nie verander kan word nie maar dan moet jy ook “Leer uit jou foute.” - Dit moedig aan om lesse te trek uit jou foute eerder as om net spyt te wees daaroor. Drie weke terug was my sus van Brizzie nog hier tydens die somervakansie en vakansie is mos gewoonlik 'n tydperk ryk aan gastronomie wat  dikwels gedagtes van gesellige etes, diep kuiers, en heerlike geure saam snoer. Hierdie vakansie was nie ‘n uitsondering nie. Ons sintuie het baljaar. Skirt steak gevul met mozzarella en spek, short rib in die oond gebak, eend fillet met balsamiese heuningsous, pasta, oesters en slakke, kaasbord (elke middag), ‘n wyntjie wat pas en roomyse. Dit was nie al nie. Drie weke later sit ek met die gebakte pere…..ek moet nog net die room klits. My lyf het die aanslag van die bose weerstaan. Ek het elke duiwelse lekkerny verslint. Aanvanklik voel jy nie so skuldig nie maar toe wil wil my leerbelt sy sê sê….en dan moet jy eerlik wees met jouself. “Dit was lekker né …maar nou is dit klaaaa!” Om elke dag om die blok te draf gaan nie genoeg wees nie. Ons gaan moet dieet. Daai een waar jy ‘n ete uitsny, en net vleis en slaai mag eet. Jy werk mos aan jou somerlyfie gedurende die winter….sê hulle.
Jos werk ook aan sy liggaamsopvoeding. Dis mos ‘n nuwe jaar en nuwe graad. Hy kan nou nuwe buitemuurse sportaktiwiteite kies by die skool. In my dae was dit ‘n maklike keuse vir my ouers. Kies die goedkoopste sport wat jou die vinnigste kan moeg maak. Die aanvangklike belegging in krieket was te veel en jy moes die hele middag lank oefen waarvan meeste van die tyd gegaan het om al jou pads en bokse aan te trek. Tennis moes jy wit tekkies gehad het en ‘n staalraket. Rugby was alreeds ‘n stretch met tokse maar atletiek was die goedkoopste. Dit het heel bo aan die “Cost-benefit” analise gelê. Jy het net ‘n paar kaal voete nodig gehad. Landloop was ook in daai kategorie. Jos, glo dit of nie, het met groot entoesiasme, atletiek gekies hierdie jaar. Wat hulle gaan doen, weet nugter. Dalk gaan hulle kyk of hulle in ‘n put kan spring of oor ‘n lat. Ek hoop eintlik hulle oefen 400meters. So vyf op ‘n middag vir ‘n week en dan kan hulle dit opstoot na 10. Of wat van 3 stelle van 7 x 200m teen 80% pas tot jy opgooi…soos in my dae. Dit was mos lekker. "Jy gaan dit geniet" sê hulle. 
Buiten die gimnastiek en swem, het hy ook besluit om met viool te begin. Ek kan nie veel uitbrei hier nie. Ek was ‘n power musiekstudent. Lisa en haar familie is wel musikaal. Sy het dwarsfluit gespeel, die ander het chello, viool, kitaar en almal kan klavier speel en op die noot sing. Ek roem daarin dat ek falsetto kan sing maar my definisie verskil met die koorsinniges. Jos se nefies en niggies is ook flytig met hul instrumente. Hulle kan ‘n strykorkes begin. Ek hou daarvan om na dit te luister. Dalk nie in die begin stadiums van sy vioolreis nie maar ek glo ek sal dit later begin waardeer.
  
Lisa raak al hoe fikser met haar werk. Skoolgee vir ‘n spul snotneus snuiters, peuters en kleuters is nie jou maat nie. Knip en plak in Engels en nie eers gepraat van die Franse manier van dissipline toepas nie. Hierdie Afrikaner, wat net sowel kaalvoet oor die ysige Drakensberge kon loop, kan maar net haar hande saamvryf. Sy is vasbeslote en kyk nog die maniertjies uit. Dis net ‘n kwessie van tyd of sy gaan doen wat Lisa doen. Dinge opsom, verbeter en leiding neem. Net ‘n kwessie van tyd. Sy ry bus en baie oggende is sy op ‘n drafstap na die busstop toe. Sy sny die tyd maar fyn. Saans klim sy vroeg in die kooi. Tog is ‘n ywerige en hardwerkende vroutjie aantreklik. ‘n Vrou wat raakvat. ‘n Vrou wat haar tooi vir die enigste man in haar lewe. ‘n Vrou wat die kinders se huiswerk check. ‘n Vrou wat kaaskoek kan bak en frikadelle kan rol. ‘n Vrou wat lag en grappe vertel en vir haarself kan lag. ‘n Vrou wat vra: “Is jy seker dis ‘n goeie idee?” ‘n Vrou wat die Springbokke se opbou tot die Wêrelbekereindstryd (Chasing the Sun 2) saam met jou kyk…vir so vrou kan jy net die vyf mooiste woorde in die wêreld sê. Die vyf woorde wat elke man ook droom om te hoor en droom om te sê. Uit die mond van Pieter Steph-du Toit…."My Liefie, wil jy skrum?"

Groetnis/ Salutations

Die Fat-soenlike Venters

Comments

Popular Posts