Die Verbete Venters
83. Armdruk
Laasweek was ‘n lang week weg van die huis af…meer intens ook. Daar was ‘n groot pluimveeskou in Kigali en ons maatskappy het op die rug van hierdie propaganda probeer ry deur ‘n bykomende seminaar te reël. Baie pluimveeboere regoor Afrika het hierdie geleentheid kom bywoon, juis omdat dit so ‘n welbekende affêre hier in hul agterplaas is. Vele Europëers, Indiërs en Asiërs het ook kom vlerksleep by hierdie hoenderboere…met die hoop om munt te slaan uit die veilige omstandighede wat Kigali hierdie ouens bied. Die tafel was gedek. Hulle sal eerder uit hierdie Rwandese feesmaal wil vet word as om kleiner skoutjies in die dieper en donkerder Afrika by te woon.
My vlug Rwanda toe was ‘n plesier. ‘n Klomp gryskoppe en bleekvelle van die noordelike halfrond het die vliegtuig vol gesit. Dit het beteken dat KLM hul mees lojale reisigers moet opgradeer na besigheidsklas. Ek was weereens een van daardie gelukkige trekkers. Die kos is iets uit die beste restaurante. Egte silwer eetgery, blou delft koppies…nie die houtvurkies en -lepels met kartonkoppies van die filistynklas nie. Die menu raas van smake en keuses. Steak tartare en garnale en nog meer. Jou eie persoonlike chef. Dit klink asof ek niks gewoond is nie maar die sprong tussen die peupelklas en snobklas is so wyd soos die Great Rift Valley. Net wat ek nodig gehad het. Die terugvlug het minder pamperlang gebied, maar meer oor dit later.
Dis die land met ‘n duisend heuwels. Wat kan Rwanda tog bied? Koffie? Dalk bietjie tee. Dit kan tog nie die hele land aan die gang hou nie. Wel, Rwanda se ekonomie is oorweldigend landelik en sterk afhanklik van landbou. Sterk groei in die dienstesektor oor die afgelope dekade, veral in konstruksie en toerisme, het tot algehele ekonomiese groei bygedra. Oor die afgelope tien jaar het Rwanda 'n suksesvolle sakehervormingsagenda geïmplementeer om 'n gunstige en mededingende sake-omgewing te skep. Gevolglik het Rwanda meer as 100 plekke in die Wêreldbank "Doing Business Index" opgeskiet, vandag 38ste wêreldwyd en 2de in Afrika. Dis dié dat daai KLM vlug so vol was.
Die land het vier amptelike tale: Rwanda (meer gepas, Kinyarwanda), Engels, Frans en Swahili (Kiswahili). Rwanda, 'n Bantoetaal wat aan die Benue-Kongo-tak van die Niger-Kongo-taalfamilie behoort, word deur feitlik alle Rwandese gepraat. Frans was die administrasietaal vanaf die land se tyd onder Belgiese administrasie, tussen die Eerste Wêreldoorlog en onafhanklikheid in 1962. My observasie is dat hierdie land al hoe meer verengels deesdae. Die jeug praat al hoe minder Frans en liewer Engels om natuurlik al die toeriste wat kom apies en gorillas kyk, te bedien. Die man se kop op die geldeenheid bepaal die taal wat jy moet kan praat.
My vlug terug was nie die afsluiting wat ek voor gehoop het nie. Ek is nie opgegradeer nie en moes met ‘n minder goeie sitplek tevrede wees…daai een in die middel. Met ons stop in Uganda voor ons na Amsterdam vertrek kom sit daar ‘n jong, seker in sy vroeë dertigs, hollander langs my. Nou, ek het baie reëls vir myself uitgepluis oor die jare en ek deel graag hierdie at-vies met my vriende. Een reël wat ek graag met enige man wat op trou staan deel, is dat hy moet sorg dat hy op sy huweliksnag eerste in die bad klim. Dit is uiters belangrik want dit sal sy sitplek vir die res van sy lewe wees. As jy nie by die prop wil sit nie...moet jy eerste in die bad wees. Nog ‘n reël is om uit die staanspoor die armlening in die vliegtuig te domineer. Dit bepaal waar die ander reisiger sy elmboog gaan moet hou gedurende hierdie agt tot tien-ure vlug. Ek het nog nooit nodig gehad om geweldige dominansie uit te oefen nie…my buurman het sommer vroeg-vroeg al ingegee. Hierdie hollander het met 'n meer kompeterende intensie langs my kom sit as wat ek gewoond is. Dit was soos ‘n springbokskrum en ek is die Franse Malherbe…die vaskopstut en ek gaan hom hawe toe moet vat. Hy is die loskop, die Ox, wat probeer om binnekant toe skrum met die hoop hy versmoor my dat ek my arm lig. Op ‘n stadium was ons elmboë in ‘n geweldige stoeigeveg betrokke. Ons maak nie oogkontak nie...nie eers 'n geluid nie... net drukking. Een gaan moet ingee…een gaan moet swig onder hierdie intense pyn tussen hierdie twee skoorsoekende, “wen-is-alles” hardekoejawels. Ek het sonder 'n kreun of steun, aangegaan om op die skerm voor my na movies te soek...met my ander hand. Asof niks pla nie…byt ek 'n rukkie langer op my kiestande vas…en daar is dit toe. Hy gee toe in. Die fluitjie blaas en ek wen die strafskop. Dit sal hom leer. Sy eerste voorsmakie van springboksening.
Ek het hierdie week ook my sertifikaat teruggekry van die Franse Onderwysdepartement. Ek het mos ook al my B1 Franse eksamen geskryf en geslaag. So, ek is veronderstel om my mooi te kan gedra in 'n Franse geselskap. Dit voel nie aldag so nie en ek maak nog baie foute…soveel so dat Jos nog nou en dan moet uithelp. Ek weet darem baie meer as twee jaar terug en hopelik sal ek nog meer kan doen oor twee jaar. On verra!
Groetnis/ Salutations
Die Verbete Venters
Comments
Post a Comment