Die Veristiese Venters
85. Mosaiek
Dis ons tweede keer dat ons met ‘n karavaan-kombi (soos Jos dit noem) swerf in Europa. Ses jaar terug het ons vir twee weke deur Holland, België, Oostenryk en Luxemburg getoer toe Jos nog vyf jaar oud was. Ons het gery van swaai tot glyplank, van klimraam tot roomyswinkel, want hoe maak jy met ‘n vyfjarige in so 'n wa wat vinnig verveeld raak en nie dieselfde waardering het vir die Europese landskap soos ons nie? Hy kan ook net soveel drake teken en prentjies inkleur…dan moet hy van energie onslae raak. Leonard Cohen se “Halletuja” het daai tyd deur Jos se kop gemaal en terselfdertyd weergalm deur die Alpe.
Die keer in die Pirineë is hy ouer en hy teken steeds sy drake, soek nog steeds roomys, maar sing ander, meer hedendaagse liedjies. “Ek is nou moeg om na julle oumens sangers te luister met hul krakerige stemme,” sê hy, en dan speel ons weer sy playlist oor die luidsprekers. As hy maar net weet hoe diep spore Bruce Springsteen, Guns N’ Roses, U2, Def Leopard en Neil Diamond al getrap het. Sy keuses sluit darem nie die Swifty meisie se goete in nie…hy geniet Lewis Capaldi, Alan Walker, One Direction, One Republic en Aurora. Ek was nie so bemoeid met musiek op sy ouderdom nie, maar as Jos ‘n kans kry, sing hy. In die stort elke aand saam met die selfoon op die kant, sommer net as hy deur die gang stap, as hy buite op die trampolien sit of selfs voor hy gaan slaap. Sing, sing, sing en musiek. Dis my en Lisa se teken dat hy in sy “happy place” is.
Ons het ‘n roete beplan Barcelona toe via Andorra. Na ons die wa en vir Rachel (Jos se niggie) opgetel het in Toulouse, is ons fort. Ons het mos als tot ons beskikking binne in hierdie kombi, ons gaan sommer slaapplek soek soos ons aangaan. Ongelukkig het die waterpomp moeilikheid gegee en ons moes die eerste nag “varkie” en met gekoopte water gekook en koffie getrek. Soos ons Andorra inry, sien ons hoekom hierdie “landjie” so gewild is vir hul inkopies. Ek het een ou by die drankwinkel gesien uitloop met ‘n krat vol drank. Hy loop met so 'n grynslag op sy gesig, jy sou sweer hy het ‘n onwettige lotery gewen. Hy loer tog kort-kort oor sy skouer…seker om te sien of sy vrou nog byhou. So wat maak hierdie land so besog? Andorra is die enigste land waar die amptelike taal Katalaans is. Alhoewel Katalaans in 'n paar dele van die wêreld gepraat word, veral Katalonië in Spanje, is die enigste land wat Katalaans as sy enigste amptelike taal het, Andorra. Die Andorrese kos en leefstyl is baie gesond, en dit het daartoe bygedra dat Andorrese mense een van die hoogste lewensverwagtinge ter wêreld het. In 2023 is die Andorra-lewensverwagting vasgestel op 81,6 vir mans en 86,0 vir vroue. So, buiten al die ou mense, spog Andorra met ‘n totaal van 300km lange ski-hange en Europa se hoogste golfbaan. Andorra is ook “belastingvry”, so grootliks is alles 20% goedkoper (omdat Andorra nie deel is van die Europese unie nie) as wat jy dit in Barcelona sal vind. Spanje is reeds byna 15% goedkoper as Frankryk! Hierdie landjie wat geen lughawe het nie, is ideaal vir vakansiegangers wat in hul vakansiegees, inkopies met adrenalien wil meng.
In Barcelona aangekom, was ons tyd beperk om alles wat Barcelona kan bied deeglik te bewonder. Ons het darem al die hoogtepunte op ‘n drafstap kon besigtig. Die besogde Sagrada Famillia! Wel, dit mag dalk 'n verrassing wees, maar hierdie gebou is so oud dat dit waarskynlik deur die eerste mense met klipgereedskap begin is. Die bou van die Sagrada Familia het in 1882 begin, en Gaudi het gedink hy ontwerp 'n manjifieke struktuur, maar dit was duidelik dat hy nooit die lint sou knip nie. Vandag hoop bouers om dit teen 2026 klaar te kry – net 'n paar dekades laat, geen haas nie!
Gaudi is daar begrawe, Antoni Gaudi, die meesterbrein agter hierdie projek, het ongelukkig nie 'n tram se spoed in ag geneem nie en is 'n paar dae later oorlede aan sy beserings. Hulle het sy liggaam op die ondergrondse vlak begrawe, en besoekers van regoor die wêreld kan dit sien wanneer hulle ook al besluit om 'n toer te neem. 2026 is om die draai. Hoekom sal die Barcelona munisipaliteit enigsins hierdie projek wil afhandel? Die narratief dat hulle nog besig is om die finale bouwerk van Gaudi af te handel, werk in hul guns. Mense kom kyk hoe hy vorm kry en as jy dit een keer gesien het as hy klaar is, hoekom sal jy weer wil kom kyk. My teorie is dat daar een ou is wat met ‘n hammer op ‘n klip slaan en ‘n slyper aan en af sit wat dimensie bring aan die geluide wat gepaard gaan met restourasie…en dan is daar nog ‘n ou wat die rookmasjien so nou en dan aanskakel. Dit bring weer ‘n visuele element aan die bewondering. Ek bedoel…3 miljoen mense per jaar teen 35 euro per persoon is ‘n lekker 100 miljoen euro per jaar inspuiting. Werksgeleenthede ensovoorts. Wie sal dit ooit wil opgee? Nog ‘n paar dekades eerder, as jy my vra.
Jos se gunsteling was die Casa Batilo waar nog ‘n miljoen mense die Gaudi geinspireerde boustyl huis besoek. Casa Batiló was nie 'n nuwe konstruksieprojek nie, maar eerder die opknapping van 'n gebou wat in 1877 ontwerp is deur Emilio Sala Cortés, wat, glo dit of nie, Antoni Gaudí se onderwyser was. Ja, die man wat later bekend sou staan as die meester van modernisme, het sy leermeester se werk oorgedoen. Die aanvanklike plan was om die huis af te breek, maar Gaudí het besluit om dit eerder in 'n meesterstuk van modernisme te omskep. Hoe verder jy deur die stad stap hoe meer sien jy vir Gaudi dat jy naderhand dik raak vir die kalant. “As ek nou nog ‘n Gaudi geinspireerde plek moet besoek, gaan ek in my broek ….” was een van die aanmerkings wat ‘n toeris langs my gemaak het en dit is omtrent so. Maar..niks wat roomys nie kan regmaak nie.
Ons het besluit om die wilde wêreld van publieke vervoer aan te durf, meestal busse. Elke middag op pad terug na die kamp, het ons 'n parade van kleurvolle karakters teëgekom. Daar was die popcorn-dame, wat die bus soos haar persoonlike fliekteater behandel het, kompleet met 'n gereserveerde sitplek vir haar sak. Dan was daar die ou tannie met haar inkopiewaentjie, wat die gang versper het asof sy die laaste brood tydens 'n uitverkoping bewaak. Sy is 'n plaaslike inwoner en hou duidelik nie van toeriste met hul rugsakke en kaarte nie. En natuurlik, die jong ou met sy AirPods, salig onbewus van die wêreld, veral die vrou met krukke wat langs hom staan – hy het beslis 'n ineenstortingskursus in maniere en ‘n skop op die zip nodig gehad. Dit was die perfekte geleentheid om vir Jos oor respek te leer. Hy het dit so ernstig opgeneem dat hy begin het om sitplekke aan te bied vir elke ouer persoon, selfs die ou Duitse paartjie. Ek kon sien hy wou meer in Duits gesels, maar sy woordeskat was nog onder konstruksie. Die bietjie Duits wat hy op skool leer, gaan hom nie gou vlot maak nie. Iets om aan te werk, dink ek.
Die ysmeisie het hierdie week kom intrek in ons buurt. Sy het seker gemaak die ergste hitte is nou gebreek. Ons het die kaggel begin stook en die verwarmers begin aanskakel. Ons winter is hier.
Groetnis/ Salutations
Die Veristiese Venters
Comments
Post a Comment