Die Verouderde Venters

87. Haar-man-is

So het ons langverwagte vakansie Suid-Afrika toe, aangebreek. Ons eerste kuier in bietjie meer as twee jaar. Daar was ‘n opgewondenheid, ten spyte van die Franse verkoue wat ons nog onder lede gehad het. Lisa het die meeste geworstel maar dit sou haar nie onder kry nie. Dit gaan nie haar verlange blus nie. Jos kan nie uitgepraat raak van al die lekkernye wat hy weer gaan uittoets nie. Die nefies en niggies is in vir ‘n ding.

Ons eerste stop was in Robertson waar Lisa se boet en familie nou bly. Hulle het skaapstertjies en die vetgemaakte kalf voorberei vir ons. Ons is op die hande gedra. Sommer diep geselsies aangeknoop. Daai geselsies wat eers na drie of vier ure se kuier, wanneer al die oppervlakkige pratery verby is, inskop. Die oudste Verbeek niggie bly daar en Jos en Killa het uit die staanspoor gekliek. Sing en teken…dis hul sweet spot. Ons kon darem vir neef Nico en Karla van Barrydale ook raaktrap vir ‘n vinnige koffie. Twee dae later is ons Kleinmond toe. Oupa en Ouma Verbeek het sommer in die straat gestaan en wag. Dit was ‘n snikkende ontmoeting. Die oumense het ook in hierdie tyd hulself daar kom vestig en ons hoef nie meer die pad Waverly toe te ry nie. Alles is netjies en skoon…asof die president kom kuier. Sjokolade op die bed, Cream Soda in die yskas en Geelvetbiltong in die droeër. Dié Overbergse dorpie bied ‘n rustigheid vol maters van hul portuur. Die sosiale kalender raak al hoe besiger soos ‘n ou ouer word klink dit my.

Die ander nefies en niggie bly in Hermanus. Dis nou ‘n oulike en besige dorp dié ! Hemel op aarde. Al die Fancy Transvalers, en die Transvalers wat reeds verhuis het Kaap toe en ook enkele Kapenaars, kom hou hier vakansie. Die huismark is goed. Vrek duur en jy moes al vyf jaar terug hier gekoop het. Die rykes wat teen die berg bly sukkel maar met die bobbejane wat die huise plunder. Daar is selfs groen-groepies wat die beweging van die troppe bobbejane dophou en een van die dae mag jy nie eers skeef vir Brandwag kyk nie, of jy word beboet.

Eerstewêreld probleme klink dit vir my maar tog kry jy ‘n Europese somergevoel as jy hier in die strate loop. So gebeur dit ook dat ek en skoonpa Checkers toe moes gaan om eetgoed te koop vir Ou-Kersaand. “Koop steak, eiers, tamaties en twee blikkies tamatie-en-uiesmoor” lees die whatsapp wat Lisa vir my gestuur het. Ons gaan sommer plankie-vleis en pap maak…met boeriesous. Plankie-vleis is ‘n gesogde dis. Skoonpa se resep is…een of twee groot stukke rump, seker so een kilo elk, op ‘n vuurwarm vuur vir vyf minute aan ‘n kant. Dan lê en rus hy vir tien minute ...en dan sny jy vir hom op ‘n houtbord…sulke dun skyfies. Daai gelykenis in die Bybel van die twee vissies en die vyf brode…daai een kon net sowel met plankie-vleis vervang geword het. Jy kan baie mense kos gee op hierdie manier. Nou ja…so is ons toe Checkers toe. Soos ons by die ingang instap staan daar ‘n spul pa’s wat nog laaste minuut geskenke laat toedraai. Hulle is een van drie tipe pappas. Daai een pa wat aanvanklik gedink het ‘n Aero choclate en ‘n paar strandtennisrakette sal genoeg van ‘n kerfeesgeskenk wees vir die kinders, want die vakansie is alreeds donners duur…Of…die pa wat vinnig ‘n boks tjoklates moes gaan koop het want die bure het ons genooi vir ete en ons kan nie met leë hande daar aankom nie…Of…die pa wat elke jaar maar op die nippertjie ‘n barbie-pop en spidermanpak by Checkers koop. Die prys is met ‘n koukie toe gekrap en die tags bly nog aan…vir ingeval ons dit moet gaan omruil.

Soos ek stap met my mandjie na die yskaste toe, soek ek die vleisrak. Ek moet net eers noem dat ek my groen golfhempie aan gehad het, my leerplakkies en my Franse petjie opgehad het. Voor my staan dames wat steaks kies vir die aand se braai. Nog ‘n reël as dit by plankie-vleis kom... dit is nie die vrou se werk om die vleis te kies of te koop nie. Dit is reeds by hierdie stap waar die huwelik tussen braaier en kruisskyf begin. Jy voel die pakkie, beloer die gryn van vleis, kyk of die hoeveelheid vet genoeg is en dan lê jy daai vleisie in jou mandjie neer…net soos Moses in die biesiemandjie neer gelê was...saggies. Ek kon nie aflei of hierdie klomp dames hippie Hermantiete is en of hulle net Valies is wat so probeer op-dress nie. Los passende wit en aards-kleurige klere. Groot sonbril op die kop wat die hare terughou en goue armbande wat klingel soos hulle strek na die rak. Ek leun toe vorentoe en skuif my bril reg om die prys te lees. Toe hoor ek dit. Die vrou langs my, met ‘n knewel van ‘n diamantring, haak af met die woorde wat ek nie verwag het nie. Dis nie iets wat jy sommer in Frankryk sal hoor nie en ook nie van ‘n getroude vrou soos sy nie. “Skuus, wil oom dalk verby kom?” vra sy ewe. Ek was stom vir ‘n oomblik. Ek kon dit nie glo nie en toe sê ek: “Nee.. nee dankie jonge dame, dis net my sig wat ontbreek. Insig beskik ek wel nog van.” In vandag se tyd…kan jy glo? Waar in die lewe gaan jy hierdie mate van respek nog kry. OOM nogal! Ek ken net monsieur.

Ons paar dae van see, swem en snorkel staan einde se kant toe. Ons gaan koebaai moet sê vir die Kaap en almal wat hier is. Tot wedersiens Moeder …nou gaan ons Noord na die ander geliefdes wat daar vir ons wag.

Groetnis/ Salutations

Die Verouderde Venters

Comments

Popular Posts