Die Voldane Venters
88. Dubbeldik
Die tweede been van ons SA-kuier het aangebreek, en kom ons wees eerlik – wat is meer Desember as ‘n kampvakansie? Ek het grootgeword met hierdie gebruik en self so tradisie voortgesit: ATKV Drakensville, jaar na jaar. Kamp is soos die skool vir jou siel – dit leer jou dinge soos hoe om rustig te bly terwyl jou opblaasmatras jou stadig maar seker verraai, en hoe om jou beste glimlag te hou terwyl kinders op skopfietsies en pienk popwaentjies ses-uur die oggend deur die kamp op en af jaag, en hoe om te dans wanneer dit stormreën en jy moet die tent help anker met ‘n handoek op jou kop. Dis eienskappe wat jy by ‘n kampmeisie kan uitken bo ‘n strandhuismeisie. ‘n Kampmeisie het ‘n hoër verdraagsaamheid vir ‘n rumoer en chaos. Haar geduld en kapasiteit vir kalmte, is onmeetbaar in Desembers. Haar oogknik, is alleen die kampgeld werd. Lisa is ‘n kampmeisie.
Daar is ‘n paar klanke wat elke kamp definieer. Soos die skril “kling-klang” van tentpale wat óf aankondig “ons gaan NOU kamp!” óf “ons gaan nou huis toe!” En dan is daar natuurlik die geliefde “kliek” van jou waaier, net voordat jy hoor: “die krag is af!” Maar niks klop die nagtelike afblaas-masjien – daardie opblaasmatras wat skielik besluit dis moeg gewerk.
Ons kamp hierdie keer by Dube naby Brits – Ford Rangers en dikwiel karavane sover jy kyk. Hier en daar ‘n Cruiser met bande wat lyk of hulle Van Zylspas uitgery het soontoe. Die kinders het natuurlik nie opgehou roomys eet nie – Jos, Sion, en Miari was soos Jannie de Beer op daardie Wêreldbeker-dag in 1999: skepskop ná skepskop, net met roomys en nie bal nie. Supa-tubes en warmswembaddens het die jongspan se energiebatterye vinnig laat leegtap, maar hoogtepunte soos die wildrit op die bakkie elke middag, het weer alles aangevul. Ons het wild gesien wat so naby was dat ons byna vir die kameelperd kon vra of hy ‘n selfie saam met ons wou neem. En as jy nog nooit ‘n blesboklam hoor blêr het nie – glo my, dis die naaste aan ‘n vioolkonsert in die bosveld wat jy gaan kry.
Terug in Centurion, in ons ou vallei, het ek my weer gaan vereenselwig met ons Wierdaparkbuurt. Tydens my nostalgiese oggenddraffie sien ek al die tuinmanne wat inklok vir die nuwe jaar. Oral word die sypadjies en grasperke ‘n vakansieskeer gegee. Vrouens, met babas op die rug, loop van drom tot drom opsoek na ‘n stukkie afvalkos of ‘n bietjie plastiek. Ai, die elende! Hulle ken al die roete van die dromlorrie. Die ou tannie in Sekelboslaan hou wag by haar drom, juis om ietsie spesiaals vir die kleintjie te gee. Kinders in Theostraat het radio-beheer-karre gekry vir kersfees. Die papiere en Takealot-bokse peul by die drom uit. Nie te ver agtertoe, kom die lorrie aan. Die Du-Toit nefies en Jos se goue-gabbas (Léan, Liam, Danay en Deoné) het ‘n vinnige maar nodige kuiertjie gekry. Daai tenkies sal seker nooit vol raak nie maar tog is die glimlagte breed. Die Bankies, Potties, Joostes, Lindeques, en Olivers kon ons ook inpas. Asof ons mekaar eergister laas gesien het. Esna se groot bottel appelkooskonfyt het sommer saam met ‘n ekstra tas gekom…iets wat ek gesien het ons later nodig gaan kry.
Wat is ‘n vakansie sonder ‘n melkskommel? Buiten die lekker geure, is dit eintlik die laaste slurp deur die strooitjie wat saak maak – daardie ikoniese blrrrp wat aankondig: “Ahhh, nou is hy leeg.” Dit is die finale noot van ‘n perfekte treat. Maar, glo dit of nie, melkskommels is ‘n skaars spesie in Frankryk. Hier gaan jy sukkel om iemand te kry wat weet hoe om een te maak sonder om te vra: “Is dit soos ‘n smoothie?”
Maar jare terug, in ons goeie ou Kolonnade-dae, het my Pa bewys dat hy die koning van melkskommels is – of minstens die koning van dubbeldik versoeke. Ons het by Panarottis gesit, reg langs die Spur en oorkant die ysskaatsbaan. Terwyl ons almal beskeie bestellings gemaak het, kom Pa ewe selfversekerd aan die beurt: “Kan ek asseblief ‘n dubbeldik aarbeimelkskommel kry?” vra hy, sy stem so ferm asof hy die HAT-woordeboek in sy sak het om enige twyfel oor "dubbeldik" uit te klaar. Die kelnerin – skaars oud genoeg om met ‘n pen te mag skryf – het vir ‘n oomblik verdwaas gekyk. “Ons het nie aarbei nie, meneer,” sê sy bedeesd. Pa frons effens, maar hergroepeer vinnig. “Goed, wat het julle dan?” Sy noem die klassiekers: “Net strawberry, chocolate en vanilla, meneer.” Pa lig sy wenkbrou op. “Mooi so, ek sal ‘n strawberry vat. Maar dubbeldik, asseblief.”
Die laaste dae was propvol gesinsaktiwiteite – skaak, bordspeletjies, en selfs ‘n riller-rondte ballontennis saam met die Venter nefie en niggie. Maar toe ons alles probeer inpak, was dit duidelik: ons bagasie was nie net fisies swaarder nie, maar ook emosioneel. Twee en ‘n half jaar gelede was ons vertrek vol onsekerheid en avontuur. Nou, na ‘n ryk kuier en ‘n tas vol herinneringe, weet ons waarheen ons oppad is – en hoeveel groter ons harte vir ons mense geword het.
Tot siens, Suid-Afrika. Groetnis met liefde en, natuurlik, ‘n tas vol dubbeldik herinneringe.
Groetnis/ Salutations
Die Voldane Venters
Comments
Post a Comment